FOTO: Verskaf
Die dag toe die Kleindorp-dromer van Despatch die musiekbedryf betree het kon ’n mens nie anders as om regop te sit, kennis te neem en verlief te raak op sy unieke stem, styl en voorkoms nie. Dis daarom ook geen verrassing dat Elandré se debuutalbum platinumstatus in 2019 bereik het nie.
“My eerste album – platinum. Dankie Despatch! Los alles op die lyn,” het Elandré gesê.
Sy tweede album, Boomhuis, het dié jong sanger en liedjieskrywer na nuwe hoogtes geen en gouestatus bereik. Die eerste enkelsnit vanaf dié album, Vuur op die Water, het ook dubbel platinumstatus bereik verlede jaar.
“Ek het my tweede album geskryf met die hoop dat dit die wêreld so ’n bietjie sal inkleur en perspektief kan gee oor wat dit is om te leef en streef in vandag se tyd. Aand na aand het ek na julle gekyk soos julle na my.”
“Ek het soveel hande geskud. Ek het vriende verloor en vriende gemaak. Ek het geleer wat ondersteuning is en ek is verby dankbaar. Dankie vir elkeen wat sovêr saam in die ‘Boomhuis’ gekuier het. Julle is altyd welkom,” vertel Elandré.
Nou is Elandré terug met sy derde album: Rugsak. Hierdie voortreflike nuwe versameling beloof om sy beste werk nóg te wees met aangename verrassings en ’n nuwe aanslag tot sy unieke lirieke en musiekstyl.
“Ek is geleer dat ons elkeen die lewe deurgaan met ’n rugsak. ’n Spreekwoordelike bêreplek vir die klippe wat jy op jou lewenspad vind. Dit is in die stilte van ’n pandemie dat ek die geleentheid geneem het om my eie rugsak om te keer, te analiseer en te vereer.”
- Rugsak is nou oop vir voorafbestellings en die eerste enkelsnit vanaf die album, Binne & Buite, is ook nou beskikbaar.