FOTO: Charles Ackerman
Morné se eerste enkelsnit en musiekvideo Vandag is onlangs bekendgestel en ons het met die talentvolle sanger gaan gesels oor die liedjie, die video en meer.
Jou eerste enkelsnit is besonders. Wie het dit geskryf?
Baie dankie. Vaughan Gardiner en sy vrou het Vandag geskryf.
Wat is die storie agter die liedjie?
’n Mens is altyd so bang om ’n kans te waag en uit mens se gemaksone te beweeg. Die lied gaan juis oor my, wat my eie drome wil bereik en ’n kans te waag en nie te wag tot eendag nie, maar vandag die goeie te sien en te besef elke dag is net geleende tyd. Geniet die lewe nou en sien die goeie dinge raak veral in die tyd wat ons nou in leef.
Wat beteken die liedjie vir jou as mens?
Dit is so groot geloof stap vir my in my lewe en om iets te doen op wat ek kan trots voel. Dit is tyd om te doen en nie net te praat nie.
Hoe hoop jy sal die luisteraars jou liedjie interpreteer.
Ek glo dit gaan mense inspireer om nie net te droom en te wag vir iets om te gebeur nie, maar om self ’n stap te vat en om iets te doen om te bereik wat hul hart begeer. Almal lewe so gejaag en lewe van naweek tot naweek. Ek hoop die luisteraars sal besef om te leef vir vandag en om te sien daar is altyd iets goed in elke dag. Al kan dit net ’n greintjie hoop in Afrikaners se harte plaas het ek my doel bereik.
Die musiekvideo is ook onlangs bekendgestel. Hoe voel dit nou dat dit op almal se skerms is?
Ek hoop dit is op almal se skerms. Dit is vir my lekker om te weet ek kan die tyd in my lewe met mense deel en dat hul die passie van my musiek kan sien.
Vertel ons asb meer van jou vrou se oupa se plaas op Dullstroom, waar die musiekvideo deels geskiet is.
Dit is net so besonders mooi. Dullstroom op sy eie is volgens my een van Suid-Afrika se mooiste dorpe en is absoluut prentjiemooi en dit is so groot voorreg om die video op die berg te kon skiet wat uitkyk op die grasgroen koppies.
Watter boodskap wil jy oordra met jou musiek?
Ek wil mense bemoedig, inspireer en motiveer om positiewe denke te kweek in ’n negatiewe wêreld. Mense hunker na hoop.
Enige toekomsplanne?
Ek sal graag nog baie wil reis en natuurlik aan my musiekloopbaan werk.
Kan ons enige ander musiek van jou in die naby toekoms verwag?
Op die stadium beoog ek om binne die volgende paar maande my tweede enkelsnit bekend te stel en is hard besig met die skryf daarvan. Hopelik kan kunstenaars ook binnekort weer begin optree.