Nathan Smith groet Suid-Afrika met ’n nuwe enkelsnit!

FOTO: Verskaf

Die dag het aangebreek vir die bekroonde Suid-Afrikaanse kitaarspeler, sanger en liedjieskrywer, Nathan Smith en sy gesin om permanent na Brittanje te verhuis, maar hy stel ’n laaste enkelsnit getiteld Running Out of Control aan radiostasies landwyd vry.

“Dis ’n lied oor die liefde en oor hoe, wanneer jy verlief raak, dit nuwe gevoelens in jou laat opvlam en jou uitkyk op die lewe verander. Dit gaan oor hoe ons geen beheer oor ons gevoelens het nie en hoe dit soms soos ’n trein voel wat nie gestop kan word nie,” sê Nathan.  Hy het die lied in 2019 vir sy album, Here’s To The Now, geskryf nadat hy oor sy ondervinding met die liefde en lewe gedink het en hoe hy gesien het liefde en verhoudinge in ander mense ook deur die liefde aangeraak word.  “Ek wil graag hê luisteraars moet besef dis in orde om so te voel en hulle daaraan herinner om daardie gevoelens vas te gryp, selfs al is dit net ’n gedagte.”

Volgens Nathan is alles in plek vir hulle om SA vir Brittanje te verruil en alhoewel dit nie ’n maklike besluit was om te neem nie en hulle SA baie gaan mis bied die VK tans net ongelooflike geleenthede aan hulle, waarvan een insluit dat hy sy album en musiek aan ’n internasionale gehoor sal kan bekendstel.

In ’n laaste boodskap vanaf Nathan aan sy aanhangers, vriende en familie in Suid-Afrika wil hy graag sê:

“Vanaf ’n ou wat meestal glo daarin om dinge veilig te hou en maar altyd binne die lyne van die lewe speel wil ek sê LEEF… Gryp geleenthede aan wanneer hulle jou kant toe kom, selfs al beteken dit jy moet ’n kans vat, ’n risiko neem. Hê innig lief en leef vry.  Ek wil eendag op my knieë by die eindstreep aangegly kom! Dankie vir die platforms en mense wat my hier ondersteun het.  SA sal altyd huis wees.  Baie liefde”.

Nathan is met trots geborg deur D’addario, Sennheiser, Marshall Music en Clayton Picks.

Die enkelsnit is nou op digitale musiekplatforms beskikbaar!