FOTO: Willem Botha
Julanie J se tweede enkelsnit, Arm, vanaf haar album Mooi is onlangs vrygestel. Dié ligte liedjie kan reeds op verskeie groot radiostasies gehoor word.
Nou is die musiekvideo vir die enkelsnit uitgereik en Julanie se man JP verskyn saam met haar in die video. Die video speel af in ’n woonstel in Kaapstad, waar ’n jong paartjie hul huisie bou.
Julanie sê dat dit gepas is dat haar man saam met haar in die video te sien is aangesien sy juis Arm vir hom geskryf het. “Dis ’n liefdeslied wat ek in 2018 vir JP geskryf het toe ons nog verloof was. Dit gaan oor hoe ons in so baie opsigte die teenoorgestelde van mekaar is, maar dit is juis dit wat ons bymekaar gebring het. Dis die klein dingetjies wat maak dat jy verlief raak en bly,” vertel Julanie.
Julanie glo dat liedjies soos Arm belangrik in tye soos nou is omdat dit vreugde en liefde saai. “Met die vrolike aanslag bring dit weer moed en ons almal kan doen met ’n opkikker in die tyd. Dit was spesiaal om die video saam met JP te kon opneem. Hy is nou wel nie bekend voor die kamera nie, maar het dit sommer gou baasgeraak. En hy het ook gou besef dat ’n musiekvideo nie kinderspeletjies is nie,” lag Julanie.
Kyk die musiekvideo hier:
Arm volg in die voetspore van enkelsnitte soos Liefde wat ons heelmaak – ’n duet saam met Ivan Roux, Dalk is Ek, Sandkastele en Gegrond. Al hierdie liedjies is te hoor op Julanie se debuutalbum Mooi. “Mooi se tema is selfontdekking en elke liedjie vertel ’n storie oor iets wat in my lewe gebeur het wat ek graag met ander wil deel.”
- Arm is nou digitaal beskikbaar op Apple Music, Spotify, Deezer, JOOX en vele meer.