Henri Alant voltooi enkelsnit binne minute ná sy ma negatief toets vir Covid

FOTO: Verskaf

“Energiek, optimisties en áltyd positief.” Só word die sanger Henri Alant beskryf – self in sy donkerste uur kan jy maar weet dat hy die lig aan die einde van die tonnel sal sien en ’n boodskap van hoop oordra. 

Sy liefde en opregtheid vir musiek asook sy ongelooflike talent is iets wat jou met die eerste oogopslag sal beïndruk. “As ek net een luisteraar se lewe kan verander sal my loopbaan volmaak wees,” sê Henri, wat vanjaar ’n dekade in die musiekbedryf vier. 

Henri het reeds tien jaar terug mense se harte gesteel met sy enkelsnit Cupid. Nou is hy terug met sy derde enkelsnit vanaf sy opkomende album, Jy is Lig. Rose is ’n liedjie uit Henri se eie pen en getoonset deur Pedre Lamprecht. Christie Schutte het die vervaardiging daarvan behartig. 

“Dit is ’n liefdesboodskap vir al die ma’s – die wat met ons is en die wat nie meer is nie,” verduidelik Henri. 

Henri het vir vier jaar lank aan die konsep van Rose gewerk, maar kon nooit die woorde voltooi.  Ná sy ma ’n Covid-19 toets afgelê het en die resultate negatief teruggekom het, is sy met ’n verkoue soortgelyk aan die koronavirus gediagnoseer. 

Die nuus was so groot dat die woorde vir Rose dadelik gekom het. Binne vyf minute is die liedjie gepen – perfek, sag en duidelik. 

Luister na ’n voorskou hier:

’n Musiekvideo vir die liedjie word op 27 Februarie bekendgestel, maar hieroor wil Henri nie veel verklap nie. 

Met die liedjie wil Henri nie die eerste plek op ’n radiostasie se trefferparade verower nie – alhoewel dit ’n seën sal wees – maar eerder ‘’n liefdesboodskap vir alle Moeders oordra.