PietFrik wil met nuwe enkelsnit herinneringe skep

FOTO: Willem Botha

Die opwindende nuwe kunstenaar PietFrik stel op 19 Februarie sy debuut enkelsnit, Dis Net Jy bekend en paartjies sal verseker aanklank vind by dié hartroerende ballade. 

Dit het oorspronklik begin toe hy ’n lied as trougeskenk aan sy vriende wou opdra. “Op die dag van die troue het ek besef dat hierdie lied meer is as net swart op wit, maar eerder ’n belofte aan jou ander helfte,” vertel hy. 

PietFrik het self Dis Net Jy neergepen en vir hom is dit belangrik vir ’n liedjie om betekenis te dra. “Ek skryf nie net om ’n liedjie te skryf nie. Ek skryf vir oomblikke. Ek wil graag hê dat mense na my liedjies moet luister om spesiale oomblikke te onthou. Ek voel musiek het tog so ’n gawe om ’n herinnering op te bring,” voeg hy by. Die enkelsnit is vervaardig deur Hugo Ludik van Muse Studios en sorg vir ’n vars radiovriendelike enkelsnit wat bekoor. 

Dis Net Jy vertel van ’n lewensreis saam met die spesiale persoon in jou lewe. Van julle troudag tot die einde van dae – vir altyd! 

Luister hier na ’n voorskou:

Die musiekvideo is buite Pretoria geskiet deur Weslou Visuals. “Die konsep van die musiekvideo dra presies dieselfde boodskap oor as die lirieke,” vertel hy. “Dit handel oor verskillende aspekte van ’n liefdesverhaal. Die troudag, saam oud word, die struikelblokke – die lesse wat jy saam as ’n paartjie leer. Maak nie saak in watter storm jy jouself bevind nie, jy sal altyd die liefde van jou lewensmaat hê – saam met God natuurlik!” 

Dis Net Jy se musiekvideo word op 26 Februarie bekendgestel. 

  • Volg gerus vir PietFrik op sy sosiale media blaaie. Facebook (@PietFrik) en Instagram (@pietfrik)