FOTO: Verskaf
Vir Len Muller is sy derde ateljee-album Oorgenoeg, wat einde Oktober verlede jaar vrygestel is, soos ’n getuienis van die hemelse genade en guns wat dié sanger en liedjieskrywer oor die afgelope paar maande beleef het. Ten spyte van al die uitdagings beskryf hy dit as sy beste werk nóg!
Saam met die uitreiking van die album het sy enkelsnit, Hartklop, ook die radiogolwe getref. “Vir my gaan dit oor Johannes 5:19. God se hartklop is my beskerming, solank ek daaraan vashou. Dis moeilike tye wat ’n mens weer op jou knieë bring waar jy rus kan vind op die Skepper se borskas. Die hele album praat maar oor intimiteit wat ek beleef in my verhouding met Hom. Hartklop is deel van my getuienis dat ek nie sonder die Hemelse Vader sal kan oorleef nie,” verduidelik Len in ’n onderhoud met Fanie Nel, die redakteur en stigter van Afrikaanse Musieknuus.
Soos ’n mens deur die album luister kan ’n mens nie anders as om vir ’n oomblik stil te hou by Len se duet met Stella nie. As liedjies soos sade was is Toevlug in vrugbare grond geplant. “Dit was ’n groot voorreg om saam met Stella te sing. Sy het ’n hart vir Jesus en haar stem is hemels.” Nóg ’n duet wat opvallend is, is die titelsnit van die album – Oorgenoeg. In dié snit sing Len saam met sy sussie Miemie Blaauw. “Dit was so lekker om vir die eerste keer saam met my sussie in die studio ’n liedjie te kon opneem. Sy het ’n pragtige stem,” vertel hy trots.
Oorgenoeg volg in die voetspore van Len se twee albums Doodgewone Avontuur en Oog van die Storm. Alhoewel hy drie jaar aan die musiek op dié album geskryf het is dit volgens hom die mees afgeronde album nog. “Ek dink daar is iets vir almal op die album. Elke lied het ’n unieke boodskap van hoop.”
Vra jy hom watter liedjie vir hom uitstaan, antwoord hy sonder twyfel: “Klei”. “Dis na aan my hart omdat ek glo die gevoel en emosie wat ek beleef het met die skryf daarvan mooi gekombineer word met die musiek.”
En as hy die album in een sin kon opsom? “Als wat Jy is, is Oorgenoeg vir my…”
- Oorgenoeg is nou op alle digitale musiekplatforms beskikbaar.