Ariose: ‘Characterized by melody; songlike’

FOTO: Heidi Henning

Die trio Ariose het onlangs hul eerste enkelsnit bekendgestel en ons het met dié groep gaan gesels oor hul unike naam, toekomsplanne en meer.

Vertel ons meer van die groep se ontstaan.

Ons is eintlik ou vriende wat almal van die Vaaldriehoek af kom. Renier en Xander het baie jare terug toe hulle op ’n musiektoer gegaan het, ontmoet. Van daar het hulle saam begin musiek maak en Renier het al Xander se liedjies geproduseer en vermeng. Ek het natuurlik toe vir Xander deur Renier ontmoet en die musikale vriendskappe het toe deur die jare gegroei. Xander wou ’n liedje saam met my as ’n duet opneem, maar onder sy eie naam. Die liedjie was toe so maklik gebore en dit was vir ons almal so ’n lekker ervaring dat ons besluit het om ’n passieprojek onder ’n nuwe naam te begin en verdere liedjies vry te stel onder die naam. Dit laat ons ook toe om verder saam te werk as ’n groep en nie net onder ’n enkel naam nie.

Julle het sulke interresante naam. Wie het met dit voorendag gekom en waar kom dit vandaan?

Heidi het die naam offisieel gevind een aand toe ons ’n dinkskrum gehad het om ’n braaivleisvuur een aand. Ons het gespeel met die idee om ’n Engelse woord te vat en dit net so in Afrikaans oor te vertel. So het ons toe die Engelse woord Ariose gevind wat beteken “characterized by melody; songlike” en ons was dadelik getrek na die naam, dit het goed geklink deur dit net so in Afrikaans oor te vertaal en dit het net by ons bly vassit. Daar was ook ’n paar ander voorstelle gewees, maar haar voorstel het gewen op die ou einde.

Julle eerste enkelsnit is onlangs vrygestel. Vertel ons meer.

Bly jy hier handel oor die skadu-tye wat in elke verhouding skuil wanneer ons soms vêr voel van ons geliefde af, al is hulle nader as wat ons interne wêreld ons toelaat om te ervaar in daardie oomblik. 

Vertel ons iets wat die algemene publiek nie van julle weet. 

Wanneer Heidi nie besig is om te sing nie, bestuur sy haar grafiese ontwerp besigheid en maak ’n woelige drie jarige groot. Xander is ’n gewilde onderwyser by sy skool en in sy vrye tyd gebruik hy boks om homself gesond te hou. Renier en Xander sal omtrent elke keer wat hulle mekaar sien na Burger King gaan vir middagete, so indien jy ons raakloop eendag mag julle kom hallo sê. Renier hou homself besig met ’n voltydse werk by ’n college, deeltydse werk by ’n kerk en sy eie besigheid waar hy vervaardiger speel en musiekvideos maak.

Waar het elkeen van julle mekaar ontmoet?

Renier en Xander het mekaar ontmoet terwyl Xander nog deel was van sy eerste band, Avenfall. Ons het saam op toer gegaan in 2010 en dadelik goeie vriende geraak. Later het Xander my toegelaat om van sy nuwe projekte te vervaardig en ons het nog nie opgehou nie. Ons is konstant besig om aan iets te werk of selfs net ’n rustige braai te hou. Ek en Heidi het deur vriende ontmoet… Dis einlik ’n lang storie. Kom ons sê maar net dit was ’n blind date. Xander het Heidi deur Renier ontmoet… ons kan nie die oorspronklike ontmoeting onthou nie, maar ons glo dit het goed gegaan. 

Vertel ons meer van die tipe boodskap wat julle wil oordra met julle musiek.

Definitief ’n boodskap van hoop in hierdie tyd. Hoop dat daar ’n nuwe môre wag, hoop om elke dag liefde te kies. Dit is om elke dag net jouself te wees en jou hart en drome te beskerm teen die dinge wat dit wil verpletter. Dit is om dieper te kyk as net die oppervlak en te glo drome word nog waar.