FOTO: Verskaf
Die opwindende nuwe Afrikaanse kunstenaar Corné Pretorius het die afgelope paar maande vele aanhangers gewerf met sy debuut-liedjies Vuur en Vlam, Vergewe My en Halfvol – drie in die kol radiotreffers wat tans op radiostasies landwyd speel. Die video’s van hierdie liedjies het gesamentlik reeds meer as 100 000 kykbeurte op YouTube.
Aanhangers sal bly wees om te hoor dat Pretorius se nuutste enkelsnit Biertjies pas uitgereik is en dat al vier treffers nou op ’n EP uitreiking beskikbaar is!
Pretorius span kragte met Die Heuwels Fantasties en Ampie op Biertjies. Hy vertel dat dit vir hom gepas was om ‘sommer net ’n lekker ligte liedjie’ nou te kon maak. “Daar is tans baie stres in die wêreld; ons kan almal doen met ’n bietjie pret en plesier. Al drie my enkelsnitte wat verlede die lig gesien het, was tydens verskillende fases van die grendeltydperk opgeneem en uitgereik,” het hy gesê.
“Ek is dankbaar dat dit so goed doen! Dit is nou vir my ’n groot eer en next level om Biertjies saam met Die Heuwels en Ampie te kon doen. Ons het ’n rukkie terug almal bymekaar gekom by Sunset Recording Studios in Stellenbosch om te ontspan en om die liedjie op te neem. Ons het ons families saamgebring en so tussendeur die opname van die liedjie gebraai en gekuier. Die video van Biertjies bestaan uit video opnames van hierdie onvergeetlike dag.”
Kyk die musiekvideo hier:
Hunter Kennedy het die lirieke van hierdie lekker nuwe treffer geskryf. Kennedy sê dat dit moeilik is om in ons hedendaagse omstandighede positief te bly. “Ek dink wel, dit is van kardinale belang dat jy na jou siel probeer kyk. ’n Goeie manier om dit te doen is om op positiewe ervarings en herinneringe te fokus. Met die skryf van Biertjies het ek deur al die donker dinge probeer dink aan ’n algemene deler wat ’n ligpunt verteenwoordig. En die ding wat by my gestick het was biertjies om ’n vuurtjie. Kamp, jag, vakansie, naweke. Woensdae…Samesyn en biertjies en vuurtjies is ietsie wat ek dink ons almal behoort te mag deel.”
Pretorius sê dat hy soms nie kan glo hoe baie daar gebeur het vandat hy sy musiekloopbaan in die middel van die fasevyf grendeltyd in April 2020 afgeskop het nie. “Ek het my eerste liedjie Vuur en Vlam op my selfoon opgeneem. Toe was dit alles nog net ’n droom. Nou minder as ’n jaar later het ek reeds vier liedjies suksesvol uitgereik, ’n show saam met Francois van Coke gedoen en daar is ook nog vele ander liedjies waaraan ek werk met ander bekende kunstenaars. Dis ongelooflik! Ek werk met ’n fantastiese span en is dankbaar aan die publiek dat hulle aanklank by my musiek vind. Ons gaan vanjaar sommer nog baie lekker musiek maak!”
- Corné se EP, Biertjies, is nou beskikbaar op digitale musiekplatforms. Klik hier.