FOTO: Etienne Swanepoel
Deon Meiring het die tweede enkelsnit van sy nuutste EP vrygestel. Die enkelsnit, getitled Lyntjies T-hemp, is vanaf sy nuutste EP, Grensbewoner wat in Oktober 2020 vrygestel is en waarvan die musiek ook te hoor is in die kykNET reeks, ‘Kompleks’.
Lyntjies T-hemp is reeds in April 2018 geskryf as deel van Deon se ‘Maandeinde’ projek op YouTube. Die inspirasie was die feit dat Deon self meeste van die tyd T-hemde met strepe dra en hy het begin speel met die beeld dat mens tussen daardie lyntjies kan skryf en ook tussen daardie lyne kan lees.
“Ek het op ’n manier begin skryf oor wat ek dink ek tussen daardie lyne wil sê,” vertel Deon.
Alhoewel sy fisieke T-hemde iets van sy uiterlike identiteit weerspieël, gaan die liedjie oor wie Deon is en wie hy hoop om te word. Hy wonder veral oor die idee dat mens getrou moet wees aan wie jy is; dit beteken nie net dat mens altyd dieselfde moet bly nie, alhoewel ‘getrouheid’ ooglopend so mag klink. “Ware getrouheid vra juis dat mens bereid moet wees om tegelyk te verander, maar ook te onthou in watter rigting jy graag op pad wil wees,” sê Deon.
As ’n folkliedjie met beeldryke lirieke, het Lyntjies T-hemp reeds by heelwat aanhangers aanklank gevind weens die enkelsnit se betekenisvolle aard. Met organiese instrumente wat opgewek gespeel word, is dit ’n ligte aanbieding met dieper temas in die lirieke.
“Baie van my liedjies loop eers wat op die oog af ’n paar wye draaie is, maar dan kom dit elke keer tog terug na ’n sentrale tema op maniere wat hopelik verrassend is. Hierdie is vir my een van daardie liedjies.”
“In die ateljee het ek en Johan Viljoen rondgespeel met ’n baie interessante instrument wat amper soos ’n bouzouki lyk, maar ek dink nie dit is een nie. Ek vergeet altyd daai ding se regte naam omdat ek die misterie wil behou. Mense moet luister daarvoor in die koorgedeeltes. Dis nogal interessant en geheimsinnig.”
- Lyntjies T-hemp kan nou op die EP Grenbewoner gestroom word.