FOTO: Charles Ackerman
“’n Mens moet ophou wag en hoop vir ’n beter ‘eendag’ en begin waag en doen. Wees elke dag gelukkig met die klein dingetjies. Daar is nie ’n beter tyd as nou om jou drome en passie na te jaag nie,” verklap Morné oor die betekenis agter sy eerste solo-enkelsnit.
Vandag is ’n lekkerluister en motiverende Afrikaanse popsnit, uit die pen van Vaughan Gardiner, en lê die kunstenaar na aan die hart omdat hy self onlangs besluit het om ’n kans te waag en sy eie droom na te jaag.
“Almal het iets in hulle hart wat hul graag wil bereik of doen, maar ’n mens is altyd so bang vir mislukking of wonder wat ander daarvan gaan sê of dink dat ons ons eie passie versmoor,” verduidelik die sanger. “Dit is vir my self ’n groot stap in my lewe om nie te wag nie en om nou iets te doen. Dit is nooit te laat nie.”
Buiten vir sy ryk strelende stem, wat die meesleurende wysie van die liedjie soos ’n handskoen pas, sal die positiewe boodskap van dié lied ook aanklank vind by gehore van alle ouderdomme en hoop bring vir mense wat dit in hierdie tyd baie nodig het.
Luister na ’n voorskou hier:
’n Musiekvideo van die snit sal ook eersdaags aanlyn en op die kassie beskikbaar wees en is deur Wian van der Walt in Dullstroom verfilm. Volgens die musikant, is hierdie prentjiemooi dorpie vir hom en sy vrou baie spesiaal omdat hulle in dieselfde woud wat in die video verskyn getroud is en ook omdat sy vrou se oupa daar boer.
“Ek wou die video graag skiet op ’n plek wat vir my iets beteken. Die woorde van die liedjie spreek eintlik vanself, daarom het ek gevoel dat ek eerder ’n ‘optrede-video’ wou hê as een wat ’n storie vertel,” deel hy.
Morné het in die Oosrand grootgeword en is al vir twee jaar aktief in die musiekbedryf doenig. Hy het bekendheid verwerf as deel van die groep, Virander, wie se liedjie – Sing ’n Hallelujah – een van Maroela Media se Top 40-liedjies vir 2020 was. Dit kan steeds oor die radio gehoor word en die musiekvideo is reeds deur meer as 450 000 mense op YouTube gekyk.
Alhoewel hy al op vyftien begin kitaar speel het en baie betrokke is by die musiekbediening in sy kerk, het hy eers onlangs besluit om ’n kans te waag op sy musiekdroom en werk hy ook as fotograaf en grafiese ontwerper om die pot aan die kook te hou.
Die kunstenaar geniet ’n wye verskeidenheid musiek, maar sonder Switchfoot, Brandon Lake, John Mayer, Cory Asbury uit as sy grootste inspirasie. Hy verklap ook dat hy graag nog eendag saam met kunstenaars soos Roan Ash, Karen Zoid en Bernice West sou wou werk.
Oor sy musiek sê hy: “Ek wil oor dinge skryf en sing wat ek in my eie lewe ervaar en al ervaar het en wat vir my iets beteken en positiewe, inspirerende musiek skep oor dinge waarmee ons almal elke dag te doen kry.”
Morné het ’n groot liefde vir musiek, die natuur en sy gesin en meen dat hy in die toekoms graag nou baie wil reis. Vir nou fokus hy egter op die bemarking van sy nuwe enkelsnit, om materiaal bymekaar te kry vir sy eerste album en om ’n goeie pa te wees vir sy dogtertjie wat in 2020 gebore is.
Die musiekbedryf het vir dié veelsydige kunstenaar geleer dat harde werk, selfvertroue en kanse waag baie belangrike bestanddele is as jy graag sukses wil bereik. Vandag is nie net ’n pragtige resultaat van die werk en passie wat hy reeds in sy loopbaan belê het nie, maar is ook een van daai liedjies wat jou sal bybly lank nadat jy dit vir die eerste keer gehoor het.
- Die liedjie is nou op alle digitale platforms beskikbaar.