Suid-Afrika se eie ‘Johnny en June’ terug met nuwe album

FOTO: Verskaf

Die man-en-vrou-duo, Wynand en Chereé, is terug met hul vierde duet-album en soos gewoonlik stel dit nie teleur nie…

Dié twee is veral bekend vir hul verwerkings van verskeie bekende country-snitte en het met die album wat Just Us heet weer hierdie genre aangepak. 

“Ons voel daar is soveel van die ouer klassieke country liedjies wat verlore geraak het deur die jare, daarom is dit belangrik dat ons die ou musiek van so aard maak dat dit aanklank vind by veral die jonger geslag,” vertel Chereé.

Wynand beaam: “Dit is wonderlik om te sien hoe konsertgangers van oud en jong saam sing soos ons deur ons optredes gaan, dit gee ons die vrymoedigheid om country musiek ook met die jonger geslag te deel.”

Die nuwe album is ’n versameling van hulle vorige album “So onthou ons, ons gunsteling duette” met vier splinternuwe opnames.

Die nuwe opnames sluit in die alombekende en beminde You are my sunshine. Chereé vertel juis dat hulle die weergawe van Johnny Cash geluister het gedurende die grendeltyd en net daar en dan besluit het dat hulle dit moet opneem. ’n Pragtige sielsvolle vertolking van die Don Williams-treffer, Love me tonight is sonder twyfel een van die hoogtepunte en dan Alan Jackson se The older I get kry as duet nuwe betekenis. 

Verder is daar ook ’n moderne country liedjie op die album, die Kenny Chesney-treffer You and tequila word perfek vertolk deur die twee veelseidige kunstenaars.

  • Just Us is nou op alle digitale musiekplatforms beskikbaar.