Deon Meiring gesels met ons oor sy kortspeler en meer

FOTO: Etienne Swanepoel

Deon Meiring se kortspeler Grensbewoner is onlangs uitgereik. Ons het met dié denker en dromer daaroor gaan gesels.

Vertel ons meer van jou kortspeler Grensbewoner

Ek het dit in Oktober 2020 uitgereik, maar baie van die liedjies daarop het al begin vorm aanneem met my Maandeinde projek waar ek vir ’n jaar lank maandeliks ’n liedjie geskryf en dit in ’n rou vorm op YouTube gedeel het. Al die liedjies daarop het iets te doen met oorgange – tussen die verlede en toekoms, die gewone en die buitengewone, die wêreld van ’n kind en die wêreld van grootmense, tussen liefde en verlange ensomeer. Vandaar die idee om op ’n grens te woon.

Meeste van die musiek op die kortspeler is ook op kykNET se dramareeks Kompleks te hoor. Hoe het dit gebeur?

Ja, dis besonders om te kon sien hoe my musiek ’n plek vind in iemand anders se skepping. Trouens, dis eintlik al die liedjies op die kortspeler wat te hoor is in die reeks. In die grendeltyd was Louis Pretorius besig om aan die teks te skryf vir die reeks toe hy op Maandeinde afkom. Hy’t gevoel dat die lirieke goed werk saam met die storie en my gekontak om te hoor of hy dit kan gebruik. Ek het natuurlik ingestem. Ek was juis in daardie stadium besig om planne te maak om meer afgeronde weergawes van die liedjies vry te stel. So dit voel amper asof die liedjies besluit het dis tyd dat hulle uitkom.

Wanneer jy liedjies skryf, hoe besluit jy waaroor jy gaan skryf?

Dit waaroor ek skryf is meestal nie ’n doelbewuste besluit nie. Tensy ek weet ek moet of wil graag oor ’n sekere tema skryf. Ek probeer om soveel moontlik myself toe te laat om net te sê wat opreg is vir my op daardie tydstip. Ek daag natuurlik maklik op met vooropgestelde idees, maar dis meestal meer sinvol om te skryf vanuit dit wat ek regtig binne my het. Ek ontdek ook beter wat alles in my rondmaal wanneer ek skryf.

Vertel ons meer van jou maandeinde-sessies. Hoe het dit ontstaan?

My gewone skryfproses is nogal privaat. My vrou mag nie eens deur my liriekboekies blaai nie. Die gevaar daarvan is dat ek dan in die gewoonte kom om alles vir myself te hou. Tog is liedjies daar om gedeel te word. So ek het Maandeinde deels geskep om myself te dwing om op ’n gereelde basis iets van myself te deel. Ek wou ook bietjie speel met die idee dat ’n liedjieskrywer nie noodwendig ’n maandelikse betaalstrokie het nie. Daarom wou ek sien wat gebeur as ek eerder maandeliks ’n liedjie so te sê weggee.

Vertel ons meer van die vervaardiging en produksie van die kortspeler.

Dit het begin toe die inperking nog redelik streng was. Ek het die kitare en stem in my huis opgeneem. Dis nogal uitdagend, want daar is nie ’n vervaardiger wat dan langs my kan staan en objektief kan sê of ek op die regte spoor is nie. Ek het dan my basiese opnames vir Johan Viljoen gestuur. Hy het ’n paar ekstra instrumente bygesit en uiteindelik gesorg dat alles mooi inmekaarpas. Vir die weergawe van Bicycle sonder ’n slot op die kortspeler kon ons darem weer in ’n ateljee werk. Dit was onder leiding van Braam du Toit wat as ’n musikale regisseur op Kompleks se stel gewerk het.

Watter liedjie op die kortspeler is jou gunsteling, en waarom?

Hierdie vraag is gewoonlik moeilik, maar hierdie keer is dit interessant omdat die EP een van my gunsteling liedjies van alle tye insluit: Koos Kombuis se Bicycle sonder ’n slot en Koos sing selfs saam met my daarop! Tog is elke liedjie vir my baie betekenisvol. Ek wil hulle almal in elke optrede speel wat ek deesdae deon (alhoewel ek dit nie altyd kan doen nie, want daar moet tyd wees vir my ander liedjies ook).

Wat weet min mense van jou?

Toe ek klein was het ek deur baie fases gegaan van wat ek wou word. Musiek was net een van baie goed. Een buitengewone belangstelling van my was goggas en reptiele. Ek het vir lank gedink ek sal graag eendag iets soos ’n herpetoloog word. Sulke goed fassineer my steeds, maar ek moet bieg dat ek banger vir spinnekoppe is as my vrou.

Wat hou jou gemotiveerd?

Dis ’n baie belangrike vraag, want dit is nie altyd so maklik nie. Een manier is om te onthou dat ek al baie dinge reggekry het wat aanvanklik vir my onmoontlik gelyk het. Ek weet dis bietjie van ’n gonswoord deesdae, maar as ek doelbewus dankbaar bly help dit baie. Dis wel nie ’n kitsoplossing nie, dis iets wat ek elke dag, soms selfs van oomblik tot oomblik moet kies. My vrou en my katte laat my ook altyd glimlag maak nie saak hoe oorweldig ek voel nie.

Watter musiekinstrument geniet jy die meeste?

Ek voel altyd tuis die oomblik as ek ’n kitaar vashou.

Som jou kortspeler in 5 woorde op!

Plat op die aarde folk