Jan Rhaap verjaar – en sy nuwe musiekvideo met Le-Lue is hier!

FOTO: Verskaf

Die allermooiste liefdes-duet, Adrenalien deur Jan Rhaap en die geliefde Le-Lue van Bok Radio / TV is slegs drie en ’n half weke terug uitgereik, maar dit kan reeds op talle radiostaies landwyd gehoor word.  Dié pragtige liefdesliedjie, geskryf deur Juan Boucher en Jan Rhaap wat gaan oor daardie persoon of persone waarvoor jy alles in die lewe sal opoffer en wanneer hulle nie by jou is nie onvervuld voel, is óók reeds besig om die trefferparades van verskeie stasies, sommer al so kort na die  uitreiking daarvan te begin klim.

Nou stel Jan Rhaap, op sy verjaarsdag, 8 Desember 2020, dié spesiale liedjie van hom en Le-Lue se musiekvideo óók amptelik bekend! En dis vandag eerste op Afrikaanse Musieknuus te sien.   

Die video is in die Kaap by Jamrock Teater en Sunset Beach deur Wian van der Walt van Vonk Musiek geskiet en die konsep behels ’n man wat hardloop en opsoek is na sy familie. Hy sien kort-kort in sy gedagtes flitse van sy vrou en kinders wat op die strand speel en baljaar, maar hy kom net nie by hulle uit nie. Aan die einde van die video, nét voor hy wil opgee, sien hy sy vrou en kinders nie vêr van hom af nie.  Maar, is dit werklikheid of steeds net in sy gedagtes? Die kyker gaan self moet besluit…

“Ek dink almal sal aanklank vind by die video, want almal van ons, maak nie saak hoe oud jy is nie, het ’n persoon of persone in jou lewe vir wie jy alles sal doen en opoffer. Ons as mense is nie gemaak om alleen deur die lewe te gaan nie. Ek dink veral hierdie tyd van die jaar, is dit belangrik om omring te wees met vriende, familie en geliefdes,” sê Jan Rhaap.  

Le-Lue is self ook in die video te sien en Jan sê dit was vir hom ’n baie lekker ervaring om in die mooie Kaap ’n video te kon skiet. “Dit is my eerste video wat in die Kaap verfilm word. Die gesin in die video, is baie goeie vriende van my en my vrou. Dis ’n jare lange vriendin van my vrou en haar gesin, wat dit ook baie spesiaal maak vir ons,”sluit Jan af.

Kyk die musiekvideo eksklusief hier: 

  • Adrenalien sal ook op Jan se vierde ateljee-album beskikbaar wees wat op 19 Februarie 2021 vrygestel sal word en is nou beskikbaar op alle digitale platforms.