Gerhard Stroop se nuwe enkelsnit is ’n ‘feesmaal vir die fynproewersoor’

FOTO: Verskaf

Die singende Pretoriase prokureur, Gerard Stoop, se tweede enkelsnit is pas vrygestel en net soos sy debuutenkelsnit, Enkelouer ma, is Motte en kerse ’n feesmaal vir die fynproewersoor.

Gerard, wie se suster die bekende liriekskrywer Marietjie Stoop is, het ’n fyn aanvoeling vir die Afrikaanse taal en as hy eers sy pen in die ink druk dan weet enige van sy aanhangers dat daar nog ’n treffer aan die broei is. 

Hy het eers later in sy lewe begin om lirieke te skryf en saam met volwassenheid kom daar ook die nodige diepte wat broodnodig in die die Afrikaanse musiekbedryf is.

Motte en kerse is so ’n tipe liedjie; liriekdiepte (al is die woorde ’n tong-in-die-kies speelse koeterwals), in storievertel styl geskryf gekombineer met uitstekende musikale vewerkings wat sy Bob Dylanagtige singpraat-stem soos ’n papie wat in ’n skoenlapper verander pas.

Die liedjie kan as ’n aweregse liefdesliedjie beskou word, maar die stroperigheid wat so kenmerkend van ’n liefdesliedjie, ontbreek hier.

“Dis ’n tong in die kies- liefdeslessie wat poog om die wipplank-ryery in liefdesverhoudings, en spesifiek die transformasie wanneer vlinders in die aand kerse word, illustreer,” vertel Gerard.

Die kersvlam is ’n metafoor van ’n vrou wat soos die kersvlam brand en die (arme) man is die mot wat nader en nader aan die kersvlam beweeg … en dan … sy vlerke skroei. “Die liefde kan regtig wreed wees, as jy vergeet gaan jy jou vlerke verloor,” sê Gerard.  

Die metafoor van die mot en die kersvlam wat in ’n “matgevryery” betrokke is (’n mens wil nie eers aan die matbrandwonde dink nie) in die koorgedeelte van die liedjie geïllustreer. “So wink die kersvlam die arme mot nader en nader, op die liggie versot. Die liefde is wreed, rêrig waar hoor as jy vergeet, gai’ jou vlerke verloor.” 

Andrew Roos, wat ook gereeld saam met groot name soos Richard van der Westhuizen werk, het die musikale versorging en opname van die liedjie gedoen. 

Motte en kerse is om soos om by ’n feesmaal by die bekende Pierneef à la Motte-restaurant aan te sit. ’n Mens kan net nie genoeg van die pittige woorde, luistermusiek Gerard se whiskey-stem kry nie.