FOTO: Verskaf
Fatman is een van daardie kunstenaars wat ’n natuurlike talent het om gehore te vermaak. Aanhangers kan net nie genoeg kry van sy musiek nie en hy spog met talle groot radiotreffers en ’n vol bespreekde dagboek.
Na ’n moeilike 2020 wil Fatman die jaar op n hoë noot afsluit en hy is terug met ’n splinternuwe enkelsnit, Vuil Coke, wat nie net beloof om in die voetspore van sy wegholtreffer Dorp Toe – wat met meer as ses miljoen trefslae op YouTube spog – te volg nie, maar ook ’n paar nuwe luisteraars te beïndruk.
Vuil Coke is geskryf deur Fatman en Roux Cloete. “’n Mens hoor altyd hoe die mans praat van ’n vuil coke en hoe die vrouens altyd kwaad raak as pappa ’n vuil coke te veel gehad het by ’n braai,” verduidelik Fatman.
Fatman het besluit om hierdie tong-in-die-kies liedjie te skryf sodat mense hulleself kan vereenselwig met die liedjie.
Die opname van die musiekvideo pas die liedjie soos ’n handskoen. Die video beeld uit hoe dit gaan in meeste Afrikaanse huise, en dat pappa eerder saam die manne wil kuier en braai as om die gras te moet sny of om vir mamma melk te moet gaan koop en hoe dit gewoonlik gaan as die manne ’n vuil coke teveel gegooi het.
Fatman glo dat jy nooit te oud is om enigiets te doen nie en dat jy die lewe ten volle moet geniet en daarom het hy nog baie drome en planne vir die toekoms.
Kyk die musiekvideo hier:
- Vuil Coke is nou op alle digitale musiekplatforms beskikbaar.