FOTO: Willem Botha
Die talentvolle Suid-Afrikaanse sangeres en liedjieskrywer, Alida, het pas haar derde enkelsnit vrygestel en die musiekvideo daarvan is vandag eerste op Afrikaanse Musieknuus te sien.
Nog ’n Kans, wat sy beskryf as ’n folk-rockliedjie, is een van daardie snitte wat dadelik aandag trek en haar ryk rasperstem pragtig ten toon stel.
Volgens die kunstenaar, gaan die liedjie – wat sy met Roux Cloete se hulp geskryf het – oor ’n vrou wat alles doen om haar verhouding te laat werk. “Ek is baie trots op die snit, omdat ek dit heeltemal op my eie geskryf het. Roux Cloete het my wel gehelp toonset en om alles mooi te laat vloei. Dit is gebaseer op ’n fliek wat ek gekyk het, wat my baie diep geraak het,” deel sy. “Ek glo dat mense van alle ouderdomme by die tema sal aanklank vind.”
Alida het in Centurion grootgeword en begin sing toe sy nege was. Sy was dadelik verlief op die verhoog en nie nie eers gehoorprobleme kon haar laat afsien van haar droom om eendag ’n musikant te word nie.
Sy het grootgeword met Afrikaanse en tagtigs-musiek en verklap dat sy steeds mal is oor musiek uit hierdie tydperk. “Baie mense het geglo dat ek nooit sou kon sing as gevolg van my gehoorprobleme nie, maar gelukkig het daar ’n wonderwerk gebeur en kan ek vandag perfek hoor,” sê sy. “Ek is steeds mal oor die liedjies waarmee ek grootgeword het en het ook groot waardering vir betekenisvolle musiek.”
Al is sy nog net ses jaar amptelik in die musiekbedryf doenig, het sy reeds baie musiekliefhebbers se harte verower en al die verhoog gedeel met van die land se grootste sterre.
Haar eerste enkelsnit, Meer As ’n Meisie, het sy al op skool saam met Carlé van Deventer geskryf en in 2017 amptelik uitgereik saam met ’n musiekvideo. Ek Wag Geduldig, wat deur Roux Cloete geskryf is, is in 2018 vrygestel en is ’n kontemporêre snit oor ’n meisie wat geduldig wag vir die regte man. Die musiekvideo kan steeds op kykNET gesien word.
Wanneer sy nie besig is om nuwe liedjies te skep nie, tree sy by verskeie feeste, markte, restaurante, skole, kerke, vakansieoorde en privaatfunksies op. Sy is ook besig om Onderwys te studeer by Noordwes-Universiteit. “Ek wil graag kinders inspireer om hulle drome te volg, ongeag van wat hulle omstandighede is, want ’n mens moet nooit ophou droom nie.”
As jy dié borrelende sangeres vra watter musikante haar inspireer, hoor jy name soos Elandré, Tarryn Lamb en Dewald Wasserfall en sy sal ook nog graag eendag saam met Nadine, Corlea Botha, Demi Lee Moore en Monique Steyn wil werk.
Haar stemafrigter meen dat sy gemaak is om betekenisvolle lirieke te sing, omdat die ryk toon in haar stem jou asem wegslaan en sy elke noot met haar hele hart benader en luisteraars se positiewe reaksie op haar werk beklemtoon hierdie feit.
Kyk die musiekvideo eksklusief hier: