Tien miljoen oë op dié ‘Boerepompie’

FOTO: Verskaf

Vroeg in April vanjaar is die treffer Hardekole van Ricus Nel en sy musiekvriende Refentse, Adam Tas en Bok van Blerk as die eerste Afrikaanse musiekvideo aangekondig wat  meer as tien miljoen trefslae op YouTube bereik het na dit in Junie 2016 uitgereik is. En die kykergetalle bly groei en staan tans op 12.4 miljoen… 

Talle Suid Afrikaners regoor die land het dadelik aanklank by die liedjie gevind – of dit in die gamak van hul sitkamer, op die langpad of om die braaivuur saam met vriende en familie was. 

Ricus het dieselfde resep gevolg in 2019 en saam met Snotkop die gewilde treffer Boerepompie het die lig gesien. Dit was van dag een af ’n weghol sukses en steek vandag nog vas in jou kop as jy daarna luister. 

En nou spog Ricus met nóg ‘’n musiekvideo wat die tien miljoen kerf verbygesteek het. Ja, Boerepompie is die tweede Afrikaanse musiekvideo wat hierdie gesogte mylpaal bereik het in slegs ’n jaar en sewe maande. 

“Dit voel rêrig onwerklik. Dit is vir my lekker om te weet dat die mense so baie van die musiek hou wat ’n ou maak en ek dink dit is ook die jonger generasie wat aanklank vind by my musiek. Voor ek Hardekole uitgebring het ek meer ’n gemiddelde ouderdomsklas aanhangers gehad en nou na Hardekole en Boerepompie is daar baie meer jonger mense wat ek sien by my vertonings. Dit is so groot voorreg om te weet dat wanneer mense kuier om ’n vuur saam met vriende of familie en lekker braai, dat hulle my musiek selfs op YouTube gaan luister. Dit word bewys deur hierdie 10 miljoen views op YouTube en dit is ’n groter voorreg om twee musiekvideos te hê wat meer as 10 miljoen views het, en jy kan amper sê daar is net soveel Afrikaanse ondersteuners, so hulle moes die musiekvideo duisende kere gekyk. Wat ’n groot voorreg,” vertel Ricus opgewonde.

Boerepompie is net soos Hardekole een van daardie goedvoel treffers wat jou uitlok om kliphard saam te sing, om ’n vuur, op die langpad, saam met vriende en familie – enigeplek en jou te laat vergeet van jou daaglikse uitdagings. Daarom word dit deur duisende aanhangers en Suid Afrikaners bewys hoekom dié treffer so groot gunsteling is op hulle speellys.

Boerepompie was werklik ’n tune wat al my verwagtinge oortref het. Toe ek en Ricus hom geskryf en opgeneem het, het ek geweet hy gaan goed doen, maar nie dat hy so massief sou wees nie. Dit is genuine so cool gevoel as jy weet soveel mense geniet ’n song en video waarvan jy deel is. Dit maak my dankbaar dat ek bietjie kon bydra aan mense daar buite se happiness en laataand-kuiers,” vertel Snotkop.

  • Hardekole is beskikbaar op Ricus Nel se album Ouskool Boerseun. 
  • Boerepompie is beskikbaar op Ricus Nel se album Pure Plaas. 

Kyk die video hier: