FOTO: Verskaf
Die sangeres, TV-persoonlikheid, vervaardiger en regisseur, Anaïs, is terug in die kollig met ’n nuwe enkelsnit. Rooibaard, wat sy vir haar en haar man se huweliksherdenking geskryf het verlede jaar, bied ’n terugblik op hul verhouding en is gebaseer op hul ware verhaal.
Anaïs en haar man Maurice is drie jaar getroud en amper tien jaar saam. “Ek het die liedjie vir hom geskryf en vir die eerste keer op ons huweliksherdenking vir hom gesing. Dis ’n brief wat my man beskryf,” verduidelik sy.
Die liedjie is ook onlangs tydens ’n spoggeleentheid by Avianto Wedding Venue in Krugersdorp bekengestel. En sy was aangenaam verras deur die nuus van ’n pienkvoet wat binnekort haar opwagting gaan maak… “Ons is in ons noppies oor die nuus. Ons het albei vermoed dit gaan ’n dogtertjie wees en nou is dit só.”
Anaïs kan ook nie meer wag om die titel, ‘ma’ ook agter haar naam te voeg. “Ek het al baie daaraan gedink om ’n ma te wees en dit is vir my wonderlik om nou dit te kan beleef. ’n Kind is ’n geskenk van bo. Die Here het in die verlede deur ’n visioen vir my gewys dat ek in my lewe ’n dogtertjie gaan kry. ’n Pragtige, laggende, blondekop dogtertjie. Om haar ma te wees beteken dat die Here my uitgekies het om een van sy kosbare kinders groot te maak in sy weë. Ek wil vir haar die beste gee wat ek kan, in elke vaset van ons lewe. Om ’n ma te word is regtig ’n droom wat waar word,” vertel sy opgewonde.
“Ek dink alles gaan verander… My tyd, slaap en al my gewoontes. Dit gaan definitief ’n aanpassing wees. Ek is gereed vir baie vreugde saam met haar.”
Vra jy die sangeres waarna sy die meeste uitsien, antwoord sy sonder twyfel: “Om die geskenk wat die Here my mee geseën het, te geniet. Dit beteken dat ek herinneringe kan opbou saam met haar en my man. Ek wil elke dag vir haar wys hoe lief ek haar het deur nie net soentjies en drukkies nie, maar vir haar te wys hoe om ’n lewe vir Christus te leef. Ek wil haar wys hoe om te verf, hoe om te sing en om elke talent wat die Here vir haar gegee het te gebruik.”
En die bangste? “Ek is nie noodwendig bang nie, maar ek wil seker maak dat ek tyd maak vir my huwelik en wie ek is persoonlik en as ’n ‘brand’”
Aanhangers van Anaïs sal ook haar swangerskap saam met haar kan mee maak. Ons Groei Saam – ’n Be Your Dream Produksie – volg Anaïs op haar pad na ma-wees. In die reeks is Anaïs nie net die aanbieder nie, maar ook die vervaardiger. “Hierdie splinternuwe TV-program is gemaak vir nuwe ma’s om hulle in te lig met die nuutste informasie en voor te berei vir die pad vorentoe. Op hierdie program beoog ons ook om moeilike onderwerpe soos onvrugbaarheid en aanneming te bespreek en bied ook groot pryse vir ons kykers en volgelinge.”
Ons Groei Saam sal in 2021 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai word. ’n Tyd en datum sal binnekort op Anaïs se sosiale media bevestig word.
- Rooibaard is nou op verskeie digitale musiekplatforms beskikbaar.