FOTO: Verskaf
Wilco van Wyk het geweet dat musiek vir hom beskore is… Sy ma, ’n musiekonderwyseres, het hom ingeskryf vir eisteddfods en al was dit ’n stadige begin, het hy die vrugte in sy hoërskoolloopbaan gepluk toe hy vir vyf jaar met die trofee weggestap het en by verskeie sangkompetisies as wenner uitgetree het.
In 2014 – vars uit matriek – het Wilco saam met Pierre Rossouw deur Suid-Afrika, Botswana en Namibië getoer.
In 2014 en 2015 het Wilco as deel van Ill Quatro na Europa gereis en in Spanje, Majorka, Finland, Swede en Ibiza optredes gehad.
Met sy terugkeer het Pierre vir hom die geleentheid geskep om klank te doen vir plaaslike kunstenaars. Die besigheid het vinnig gegroei en in 2019 het hy vir onder meer Emo Adams, Kurt Darren en Early B klank gedoen en ook die voorprogram vir laasgenoemde. Dit het heelwat deure vir Wilco geopen.
Wilco gebruik wel liedjies van ander Afrikaanse skrywers, maar het ook self van sy musiek op die nuwe album geskryf. Sy musiek beskryf hoe hy die lewe sien en ervaar. Wilco se fokus is om dieper lirieke te skryf en nie net popmusiek nie. Hy glo in oorspronklikheid en om sy styl uniek te hou.
Die eerste enkelsnit vanaf hierdie album heet Bittersoet Gedig. Hierdie spesifieke lied is deur Pierre Rossouw geskryf en handel oor die soet en die sout in ’n verhouding.
Wilco het sy eie sangskool waarvandaan hy deur die week sanglesse aanbied en hy is ook ’n kranige kitaarspeler.
Naweke tree hy graag op of doen klank.
Wilco se passies is nie net beperk tot musiek nie, maar hy is ’n entoesiastiese branderplankryer, is baie lief vir die see en vang graag vis. Hy is ook baie sportief en speel vir die Springbokspan Tag rugby. Hy het in 2019 na Ierland gereis om Suid-Afrika daar te verteenwoordig as voorbereiding tot 2021 se Wêreldbekertoernooi.
Vanjaar is hy gekies vir die Wêreldbekerspan wat in 2021 gaan deelneem aan die Wêreldbekertoernooi.
Kyk die musiekvideo vir Bittersoet Gedig eksklusief hier: