FOTO: Skermgreep uit die video
Janie Bay en Danie Reënwolf span hul unieke kragte saam vir ’n besonderse enkelsnit wat pas die lig gesien het.
Beide sangers het ’n besonderse gawe om die luisteraar te kan boei met hul gevoelvolle lirieke en stemme. Ek glo nog in Jou is die perfekte duet vir hierdie twee opwindende jong kunstenaars.
Janie wou nog altyd graag saam met Danie Reënwolf werk en het die idee van die lied met hom bespreek. “Ons het aan die begin van die jaar by ’n braai gesels oor die moontlikheid om iets saam te doen, maar met ons besige skedules en lockdown was ons nie seker of dit hierdie jaar sou kon gebeur nie. Ek het dadelik geweet toe die idee van Ek glo nog in Jou begin vorm het, dat dit die regte een is om saam met Danie aan te pak. Ek het weer met Danie begin gesels en ons het hier en daar daar tyd gemaak om die liedjie te begin skryf. Ek het een dag op pad Paarl toe die koor sommer so spontaan in die kar aanmekaar gesit. Soos ek en Danie toe aanhou skryf het, het dit alles saamgekom as ’n baie poëtiese, maar ook egte liefdeslied wat meestal daaroor gaan om regtig daar te wees vir iemand in ’n verhouding en om te kan staat maak op mekaar, no matter what. Danie is tans ‘the it guy’ in die Afrikaanse musiekwêreld. Dit was vir my ’n groot eer om hierdie liedjie saam met hom te kon skryf en opneem,” vertel Janie.
Danie Reënwolf se gevoel is wedersyds… “Dis vir my net so ’n voorreg om saam met Janie te kon werk. Dit was ’n lekker song om te kon skryf. Janie het ’n ongelooflike talent om van ’n eenvoudige lied, iets baie besonders te maak. Dit was baie pret en ek dink ons het nogal iets spesiaal hiermee gedoen.”
Die video van Ek glo nog in Jou is by ’n vriendin se huis in Stellenbosch verfilm. Janie het die treffende konsep uitgedink en ook die regie behartig. “Ek geniet dit, ek is mal oor die filmwêreld. Ek het aanvanklik nie gedink dat ’n video betyds opgemeen sou kon word met ons tydlyn nie. Dit was voor die handliggend dat ’n eenvoudige storielyn met ’n gemaklike, rou emosionele konsep die beste sou kon werk. Vandaar kon ons vinnig reëlings getref en ek dink die video het wonderlik uitgedraai. Dit is presies wat ons wou hê met betrekking tot die gevoel van die liedjie.”
Kyk die musiekvideo hier:
Ek glo nog in Jou is nou op alle digitale musiekplatforms.