FOTO: Verskaf
Na ’n jaar wat vir elkeen verskillende uitdagings meegebring het, wil André Schwartz nou met sy gratis, splinternuwe enkelsnit, Ek Wens Vir Jou ’n Kersfees, luisteraars die gevoel van dié spesiale tyd laat ervaar.
En dié boodskap van hoop bring hy hierdie jaar Namibië toe! Inwoners kan uitsien na twee baie spesiale aande van pragtige Kersmusiek en dit alles vir liefdadigheid. Op 27 November bied Droombos in Windhoek die eerste kerskonsert aan en op 29 November speel die Rössmund Golf Resort & Lodge in Swakopmund gasheer.
“Kersfees is sinoniem met omgee, liefde, hoop en vrede en met die pandemie wat die hele wêreld tot stilstand gebring het, is ek seker almal smag soos ek na Kerstyd,” het André vertel. “Namibië het nog altyd ‘n baie spesiale plek in my hart so ek is baie opgewonde om my boodskap met die mense te kom deel”.
Om alles te kroon is beide vertonings heeltemal gratis! Al wat jy as konsertganger moet saambring is ‘n geskenk vir ‘n kind as toegang vir die aand. Die geskenke en speelgoed sal aan behoeftiges in die omgewing geskenk word in die gees van welwillendheid. Op dié manier wil André graag teruggee na ‘n moeilike jaar – nie net finansieël nie maar ook emosioneel.
Kaartjies is beperk weens COVID-regulasies so maak seker jy ‘bespreek’ jou plek vroegtydig by Quicket.
Die eerste enkelsnit vanaf sy Kersfeesalbum, Ek Wens Vir Jou ’n Kersfees is uit André se eie pen en deel die gesprek tussen André en die man op die maan. Dis ’n jolige gesprek totdat die man op die maan vra waarom die wêreld in soveel seer gedompel is en of die mensdom van God se geskenk aan Sy mense vergeet het.
André antwoord hom daarop deur hom te vertel van die mens se gebede en dat hoop en liefde die mensdom se geskenke aan mekaar is. André vertel ook dat die mens dankbaar is vir die seëninge wat elke dag ontvang word.
“Ek het besluit om dié liedjie gratis beskikbaar stel sodat ons almal wat die liefde van Kersfees vier, dit as ’n eenheid kan doen,” het André vertel.
Die publiek kan Ek Wens Vir Jou ’n Kersfees deur hul normale digitale platforms kan luister of gratis op sy Facebook-blad kan kry en deel.
Sy volledige Kersfees-album word op 13 November vrygestel en sluit ook ‘n prettige duet in met ‘n bekende wat volksbesit is. Hierdie een gaan beslis verras!
