’n Nuwe album, enkelsnit en musiekvideo vir GnT

FOTO: Verskaf

GnT is reeds vir die afgelope vyf jaar ’n bekende naam in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf en wanneer jy na hulle nuutste enkelsnit, Hard Hard Kuier, luister is dit maklik om te hoor hoekom.

Hierdie polsende Afrikaanse popsnit, wat hulle saam met Shaun Tait opgeneem het, gaan oor die samesyn en lekker tye wat Afrikaners ervaar wanneer hulle bymekaar kom om te kuier. “Soms raak ’n mens keelvol vir die druk wat gepaard gaan met werk en finansies. Dan is dit nodig om ’n kuier te reël en vir ’n oomblik van jou sorge te vergeet,” verduidelik die duo. “Die liedjie is geskryf deur André de Jager en Shaun Tait en sal aanklank vind by Afrikaners, aangesien ons almal tans deur swaar tye gaan en soms net nodig het om saam te braai en te kuier.”

Die musiekvideo, wat verfilm is deur Martin Kotze van Die Swart Kat Produksies by Thys se huis, sluit aan by die tema en vertel die storie van ’n ou wat ’n kuier reël omdat hy keelvol is vir werk en stres en voel dat dit tyd is om saam met vriende te ontspan. “Ons het ’n paar mense oorgenooi en sekere tonele uitgebeeld. Die hoogtepunt van die video is seker waar almal saam in die swembad beland, wat vir die video vol skuim gemaak en in ’n groot borelbad verander is,” verklap hulle. “Die video het ’n baie ligte atmosfeer en die idee was reeds om dit nie ernstig te maak nie. Dit moet jou ook laat lus voel vir ’n lekker kuier of om saam te kuier.”

Hard Hard Kuier is die derde enkelsnit vanaf hulle tweede album wat binnekort beskikbaar sal wees, en volg in die suksesvolle voetspore van Man Op Die Maan en Liefde in Kwarantyn wat baie goed ontvang is en tans oor die radio gehoor kan word.

Volgens GnT (Eugene ‘Gino’ Prinsloo en Thys Beukes), bestaan die nuwe CD hoofsaaklik uit Afrikaanse popmusiek en kan dit beskryf word as ’n lekkerluister versameling, wat sal aanklank vind by alle ouderdomme, en die perfekte metgesel is vir lekker kuiers om die swembad en braaivleisvuur gedurende die vakansieseisoen.

Dit is saamgestel met die hulp van verskeie talentvolle liedjieskrywers soos Hannah Prinsloo, Vaughan Gardiner, André de Jager, Juan Boucher/ Len Muller, Rouxhan Cloete en Shaun Tait, en is grotendeels gedurende die grendeltyd vervaardig. Die sangpaar verklap ook: “Dit is ’n album met uitstekende produksie en met melodieë en lirieke wat die luisteraars maklik gaan onthou. Dit het ook ’n meer volwasse en gevorderde klank as waaraan luisteraars gewoond is en spog met ’n internasionale aanslag. Dit was vir ons ook belangrik dat die liedjies van so aard is dat ons hulle lewendig kan opvoer en dat hulle by ons optredes net so klink soos op die album.”

Twaalf snitte is sorgvuldig uitgekies om die beste eindproduk te verseker, waarvan twee liedjies hulle eie unieke verwerkings van bekende gunstelinge is. “Thys het die woorde van All I Wanna Do so ’n bietjie verander om dit meer uit ’n mansoogpunt te sing. Die ander bekende liedjie, One Good Year, is oorspronklik deur die bekende akteur, Russel Crowe, as die temalied van een van sy rolprente gesing,” verduidelik Gino.

Die duo hoop dat hulle nuwe vrystelling net so goed ontvang sal word soos hulle debuut-ateljee-album, Kuier Saam, wat verskeie suksesvolle treffers, soos Jy’s Beautiful, opgelewer het wat bo-aan die treffersparades van verskeie radiostasies gekuier het. Die album het ook benoemings vir Ghoema- en Aitsa-toekennings ontvang. Vier van die manne se musiekvideos is ook tans op die kassie te sien.

Gino en Thys kom albei van Kimberley af en het een aand in ’n kuierplek ontmoet waar Thys opgetree en Gino klank gedoen het. Hulle het onmiddellik gekliek en gespot dat hulle dalk iets moet saamdoen en so is die idee vir GnT gebore.

Beide van hulle put inspirasie uit kunstenaars wat hard moes werk om sukses te behaal en het groot bewondering vir musikante soos Theuns Jordaan, Steve Hofmeyr, Bruce Springsteen, Neil Diamond, CCR, Depeche Mode, Erasure, Spoegwolf en Elandré.

Oor die afgelope paar jaar, het hulle ook die voorreg gehad om die verhoog met verskeie groot name, waaronder Theuns Jordaan, Steve Hofmeyr, Snotkop, Elandré, Dewald Wasserfall, Wicus van der Merwe, Jo Black, Snotkop, Radioraps, Jakkie Louw, Valiant Swart, Touch of Class, Die Campbells en Fatman.

Hulle het ook optredes gedoen by van die land se gewildste musiekfeeste en was deel van verskeie verhoogproduksies soos ’n Bob Dylan Tribute Show, Ouma se Spens saam met Shaleen Surtie-Richards, One night with Smokie, The Story of Queen en The Rock and Roll Radio Show

Wanneer hulle nie op die verhoog is nie, is hulle elkeen ook suksesvolle besigheidsmanne in eie reg. Thys het ’n nasionale eiendomsmaatskappy, MRB Property Valuation, en Gino het sy eie ateljee en venue, Omidraai, wat lewendige vermaak bied. 

Buiten vir sy veelsydige stem, is laasgenoemde ook ’n knap drom- en klavierspeler wat hou van Steers en Vodka, terwyl Thys – met sy growwe baritoonstem – ’n voorliefde het vir langspeelplate, kassette en ou musieksentrums en ’n sagte plekkie het vir NikNaks.

GnT het nog baie planne vir die toekoms, waaronder hulle albumbekendstelling einde November, ’n Tuinroete-toer vanaf 15 Desember tot 5 Januarie 2021 en hulle eerste verskyning op Toks ’n Tjops op 6 November 2020.

Gino en Thys glo dat musiek ’n universele taal is en dat dit mense van enige kultuur, kleur en ouderdomsgroep bymekaar kan bring en dit is wat hulle graag met hulle eie musiek ook wil bereik. Hard Hard Kuier is nie net ’n tree in die regte rigting om hierdie doelwit te bereik nie, maar ook ’n perfekte lusmaker vir wat bewonderaars van die nuwe album kan verwag!

Luister die snit hier: