FOTO: Willem Botha
In haar splinternuwe enkelsnit, Dans Tot Die Son Opkom, wat op 18 September vrygestel word, wil Imke luisteraars ’n nuwe lus vir die lewe gee en in die bui kry om te dans – sommer nét daar waar hulle is.
“Terwyl ek die liedjie geskryf het, het die titel vanself na vore gekom en ek hoop regtig mense sal sommer dadelik meegesleur word met die ritme en lirieke,” vertel Imke.
Dié enkelsnit verplaas jou na ’n oomblik waar jy van alles om jou wil vergeet en in die rondte draai om alles in te neem.
“Ons het almal nodig om net ‘n bietjie van die realiteit te ontsnap -veral nou – en om te fokus op ’n ander ritme van die lewe – die ritme van dans,” het sy verduidelik.
Volgens haar is dit so maklik om vasgevang te word in jou daaglikse bestaan en roetine dat almal soms net ‘n bietjie moet terugstaan en ontspan.
Die musiekvideo van Dans Tot Die Son Opkom se regie is behartig deur André Velts, wat ook die regisseur van Huisgenoot se tweede film, Vergeet My Nie, was.
“My man, Gerhard, speel ook in die musiekvideo. In plaas van ’n liefdesverhaal wat afspeel, is ek besig met ’n optrede en kryso hier en daar ’n gedagte van my droomman,” het sy vertel.
“Musiek en dans laat my altyd beter voel – maak nie saak in watter posisie ek myself bevind nie. Met Dans Tot Die Son Opkom wil ek mense laat dans en die musiekvideo moet dit ook so weerspieël,” sê sy.
Dans Tot Die Son Opkom is uit Imke se eie pen met Jattie de Beer (lid van die groep, Douvoordag) wat met finale afronding gehelp het. Die vervaardiging is deur Gideon Botes, lid van die Watershed-groep, behartig.
Imke het vroeër vanjaar opslae gemaak met haar debuutenkelsnit, Oud Word Saam Met Jou, wat die nommer een posisie op Bosveld Stereo se Afrikaanse Top 20 behaal het en landwyd op radiogolwe gehoor kan word. Bekroonde sangeres en liedjieskrywer, Riana Nel, het dié liedjie geskryf wat net na die instelling van grendeltyd vrygestel is.
- Volg gerus vir Imke op haar sosiale media blaaie. Facebook (@Imkemusiek) en Instagram (imke_musiek).