Emma Ellis stel nuwe emosie-belaaide snit Kombuis vry

FOTO: Verskaf

Emma Ellis se jongste enkelsnit getiteld Kombuis is ’n nostalgiese snit wat emosies in luisteraars sal laat ontwaak waarvan hulle dalk al vergeet het.

Kombuis is geïnspireer deur die beëindiging van ‘n liefdesverhouding en is uit die pen van Brendon Delport.

Volgens Emma handel die liedjie oor ’n verlore liefde waarvan jy net nie kan laat gaan nie. “Met die liedjie reik ek uit en vra of ek mag terug kom,” sê sy.

Sy het dadelik aanklank gevind by die liedjie toe sy dit die eerste keer gehoor het en hoop dat luisteraars dit ook so sal ervaar.

“Ek hoop die publiek kan aanklank vind by die hartseer wat ons gevoel het toe ons dit geskryf en gesing het. Die einde van ‘n verhouding is iets waardeur meeste mense al self gegaan het en ek hoop dat Kombuis vir iemand anders ook kan afsluiting bring,” sê Emma.

Die liedjie is nostalgies en forseer die luisteraar om te dink aan ‘die een wat weg gekom het’. “Dit is waaraan ek wil hê mense moet dink wanneer hulle daarna luister.”

Richard Onraet van Van Coke Studios het die liedjie vervaardig. “Die manier hoe die seer in my stem vasgevang is in die liedjie is iets anders en daarvoor kan ek net vir Richard dankie sê,” voeg Emma by.

’n Musiekvideo vir die liedjie is in die Port Elizabeth Operahuis geskiet. Die outydse styl van die gebou pas perfek by die nostalgiese tema van die liedjie. Dié venue is een van die eerstes waar Emma as kind opgetree het en sy het ook ’n paar jaar gelede weer daar gesing.

Emma, Brendon Delport, Simoné Strauss, Kristie Ellis en Reynold King was betrokke by die produksie van die musiekvideo.

“Brendon was die beste persoon om die musiekvideo saam met my aan te pak, want niemand kan beter as hy die emosie agter die liedjie vasvang nie. Die video vertel die verhaal van hoe ek in ’n teater optree wat so leeg soos my hart staan en ek sing net vir die een persoon – die verlore liefde.”