FOTO: NDW Photography
Die Afrikaanse rockgroep, Wit Kasteel (Clemond Dartnall – hoofsanger en kitaarspeler, Ernst Nieuwoudt – hoofkitaarspeler, Reinard Kruger – baskitaarspeler en sanger en Waldemar Behr – dromspeler), raak by die dag meer populêr met hulle unieke rockklank en eerste enkelsnitte soos Toegewyd en Herinnering vanaf hulle splinternuwe album, Toegewyd, wat op die trefferparades van radiostasies landwyd pryk. Dié album is ook pas uitgereik en gaan verseker bewonderaars se goedkeuring wegdra!
Hierdie nuwe uitreiking bou voort op die unieke rockklank waarvoor dié viermanskap bekendheid verwerf het en bestaan hoofsaaklik uit ’n versameling opgewekte melodieë, met betekenisvolle lirieke, waarmee luisteraars kan identifiseer. ’n Paar rustiger, emosiebelaaide, snitte verseker dat daar iets op die album is wat aan elkeen se smaak sal voldoen.
“Hierdie album sluit ’n goeie kombinasie van oorspronklike liedjies, asook ’n paar bekende gunstelinge in. Ons wou graag ’n speellys saamstel wat iets vir almal het om na te luister,” verklap hulle.
Wit Kasteel se selfgetitelde debuut-album is in 2015 uitgereik en was ook vir ’n Ghoema benoem. Vanaf hierdie album het hulle groot naam gemaak met hulle eerste enkelsnit, ’n unieke verwerking van Laurika Rauch se Die Nostalgie. Dit was vir verskeie weke nommer een op Groot FM en Suidkaap FM se treffersparades.
“Ons het baie geleer sedert die vrystelling van ons debuut-album en het gevoel dis tyd om ’n nuwe een uit te bring om ons kennis en ervaring toe te pas en te wys hoe baie ons musiek gegroei het,” verduidelik hulle. “Elke lied is geskryf met ’n boodskap in gedagte en daar is iets op die album wat almal se lewens van toepassing kan wees.”
Alhoewel dit vir hulle moeilik is om ’n gunsteling uit te sonder, erken die ouens dat Elke Mens en Herinneringe hulle na aan die hart lê. Eersgenoemde omdat dit ’n diep lied is wat emosies raak en laasgenoemde omdat hulle dit so geniet om hierdie snit vir die gehoor te speel en omdat dit tans so goed ontvang word deur radiostasies regoor die land.
“Ons almal het saam aan die album geskryf en ook hulp gehad van Josh Oosthuizen en Hugo Ludik by Muse Studios. En een van die liedjies is deur Karl Bremer, Die Nostalgie se skrywer, geskryf,” vertel hulle.
Luisteraars kan verseker ook uitsien na twee verwerkings van klassieke rockliedjies wat hulle, hul eie gemaak het op die nuwe album, maar die een wat jou beslis na jou asem gaan laat snak en onmiddellik gaan laat regop sit is die verwerking van “House of the Rising Sun”, ’n duet saam met die bekende en super talentvolle, teater liefling en aktrise, Elizca Coetzer (Hairspray, Live in Vegas, Rythm of the Night).
Die titelsnit van die album is saam met Hugo Ludik van Muse Studios aanmekaar geslaan en is in Junie 2020 uitgereik. Dit was uit die staanspoor baie gewild en kan steeds gereeld op radiostasies landswyd gehoor word. Hierdie kommersiële rocksnit gaan daaroor om positief te bly in moeilike tye, wat dan ook die rede is hoekom hulle dit as titel van die nuwe album gekies het. “Dit was die perfekte naam vir ons album, want ten spyte van die omstandighede is ons nog steeds ‘toegewyd’ aan ’n groter droom en ’n beter toekoms.”
LEES OOK: Wit Kasteel se musiekvideo vir nuwe enkelsnit is hier
Wit Kasteel, wat vernoem is na ’n ikoniese gebou in Erasmuskloof, is aan die einde van 2011 deur Clemond en Jurie Schoeman gestig, omdat Clemond gevoel het dat hy nie lekker in die korporatiewe wêreld inpas nie. Nie een van die twee kon kitaarspeel nie, maar het kitare en ’n klanksisteem gekoop en begin oefen. Waldemar en Reinard was saam met Clemond op skool en na ’n toevallige ontmoeting en ’n advertensie op Facebook, het dié twee lede onderskeidelik in 2012 by die groep – wat toe net Engelse musiek gespeel het – aangesluit. Vandag is Clemond, Reinard en Waldemar nogsteeds deel van die groep, maar in 2017 het Ernst oorgeneem as hoofkitaarspeler.
Sedert hulle ontstaan, het die vier al by talle privaat-funksies, restaurante en feeste opgetree, soos Innibos, Bieliemielie Fees, KKNK, Aardklop, Moepanie Oesdag, Rocking Potch en vele meer.
Die groep het nog baie planne en drome vir die toekoms, wat meer lewendige vertonings en ’n toer na Nederland insluit.
Tans is hulle besig om die reëlings vir hulle amptelike albumbekendstelling by Padstal in Pretoria te finaliseer, wat op 20 November 2020 om 19h00 sal plaasvind. Kaartjies sal by die deur beskikbaar wees. Maak seker dat jy nie hierdie elektriese vertoning misloop nie! Geen onder 18’s toegelaat nie.
“Ons voel dat ons ’n baie unieke klank na die mark toe te bring wat nog nie bestaan nie. Klassieke rockmusiek is vir ons die lekkerste om te speel, omdat dit die beste stories vertel en ons wil graag die beste verhale met luisteraars deel,” sluit hulle af.
Die aanslag van Wit Kasteel se nuwe album, Toegewyd, is vars en modern en is die begin van ’n nuwe en opwindende hoofstuk in hulle musiekloopbaan.
- Toegewyd is nou op alle digitale musiekplatforms beskikbaar.