FOTO: Verskaf
Daar is soveel kere waar ’n mens aanhoudend seer kry en mis gekyk word oor hoe spesiaal jy eintlik is. Soms moet dit eers sleg met ’n mens gaan voordat dit beter kan gaan. Jy, jou hart en jou siel is spesiaal en bitter besonders net soos wat jy is, sien dit en glo dit. Leer uit jou foute, vat verantwoordelikheid, hou op in die gemak van seer vasgevang bly, groei as mens en word sterker.
Dít is die boodskap wat Rooksein graag wil oordra met hulle musiekvideo en liedjie. Kyk Na My Hart is ’n simboliek van hoop en dit roep ook hierdie onaangeraakte situasie uit.
Die musiekvideo vervaardig deur die briljante Christian Wolf, beeld ’n boodskap van hoop uit, almal het seer in hulle lewe en worstel met hulle eie probleme maar tog in ’n mate gaan ’n mens deur dieselfde pyn as die persoon langs jou, jy moet net jou eie padjie stap, voorentoe kyk en op die einde van die dag wag daar iets beter en mooier vir jou.
In die video word daar gewys hoe almal op hulle verskeie maniere deur hierdie uitdagings werk om dan op die ou einde van die dag by dieselfde eind bestemming uit te kom. Rooksein streef daarna om uniek te wees in hulle musiek en probeer om nie soos iemand anders te wees nie en dit kan ook gesien word in hierdie musiekvideo.
Kyk die musiekvideo hier:
Rooksein is ’n Potchefstroomse musiekgroep, wat bestaan uit Megan Danner, Dian Maritz en Renier West.
Megan Danner (22) is die groep se hoofsangeres en enigste eva en kom van Paarl in die Wes-Kaap. Sy was van jongs af passievol oor musiek en sing al vadat sy ses is. Een van haar grootste loopbaan hoogtepunte – tot dusver – is dat sy onder die Top 3 geëindig het in die eerste reeks van Emo Adams se realiteitsprogram, Maak My Famous. Die musikant het ’n wye musieksmaak, wat wissel van Country tot Jazz en Rock, en sy vind inspirasie vir haar eie musiek in alledaagse dinge.
Dian Maritz (21) is die hoofkitaarspeler en agtergrondsanger van die driemanskap. Hy is ’n rustige mense-mens, met ’n goeie sin vir humor en ’n positiewe uitkyk op die lewe. Tans studeer hy besigheidsbestuur, maar verklap dat hy al sy hele lewe lank doenig is met musiek. Dié Plettenbergbaaier hou baie van alternatiewe musiek en meen dat kunstenaars soos Jack Johnson, John Butler Trio, Ben Howard, Bon Iver, Mumford and Sons, Beatenberg, Johnny Clegg, Queen, Bread, The Maproom en John Mayer almal ’n invloed op sy styl gehad het. Dian glo dat musiek kuns is wat direk met die hart praat en put baie inspirasie uit die land, geloof en verhoudings wanneer dit by sy eie werk kom.
Renier West (23) is ’n liedjieskrywer en musikant van Rustenburg, wat inspirasie put uit die waarhede en emosies in die lewe. Musiek was nog altyd een van sy groot passies, alhoewel hy dit ook geniet het om sport – soos sokker – te doen. Wanneer hy nie op die verhoog is nie, geniet hy dit om tyd saam met die spesiale meisie in sy lewe of sy vriende te spandeer en so nou en dan op te vang met die nuuste televisiereekse.
“Musiek is ons manier om iets te sê sodat ander mense dit hoor. Luisteraars sal ongetwyfeld kan vergelyk met ons klank, styl en lirieke. Ons is maar net drie jongmense wat lief is vir musiek en bevoorreg genoeg om te kan doen waaroor ons mal is,” sluit hulle af.
- Kyk Na My Hart is nou op alle digitale musiekplatforms beskikbaar.