FOTO: Verskaf
“Twee Keer gaan oor as ’n mens in ’n situasie is waar jy verlief is op iemand, maar die verhouding is eintlik alles net een groot spelletjie wat nie een van die twee wil opgee nie.” Só vertel Dani Villé oor haar nuwe enkelsnit wat saam met haar eerste kortspeler onlangs bekendgestel is.
“Almal waarsku jou teen die persoon, want op die einde van die dag gaan een van julle net seerkry, maar jy wil nie luister nie, want eintlik in die geheim, hou jy van die feit dat dit net spelletjies is vir julle altwee.”
Die boodskap wat Dani Villé probeer oordra in die liedjie, is dat ’n mens moet sterk staan in sulke gevalle wanneer iemand net met jou hart wil speel, want jy is soveel beter as dit en verdien net die beste.
Dit vat ’n spesiale kombinasie van talent en uithouvermoë vir ’n kunstenaar om uit te staan in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf – en gelukkig het die opkomende ster, Dani Villé, genoeg van beide om haar ’n blink toekoms te verseker.
Verdwaal, haar eerste enkelsnit is in Maart 2019 vrygestel, Ek soek net vir jou het gevolg in Junie 2020 en hier is sy reeds terug met nommer drie!
- Twee Keer is nou op alle digitale musiekplatforms beskikbaar.