Jennifer Zamudio na byna drie jaar terug met nuwe solo-snit

FOTO: Verskaf

Met twee suksevolle duet vrystellings in 2020 – saam met Henri Alant en Riaan Grobler, is Jennifer Zamudio slaggereed vir ’n splinternuwe solo-enkelsnit.  

Dalk, uit die pen van die gesoute liedjieskrywer Tertius BC Pretorius, is pas vrygestel. Hierdie enkelsnit is ’n gratis opname nadat Jennifer vir twaalfure aaneen om haar huis gestap het ter ondersteuning van mediese en ander noodpersoneel tydens die Covid 19-pandemie. 

Christie Schutte van Startrax Studios het die liedjie vervaardig en stel beslis nie teleur. ’n Musiekvideo deur Dappermedia is ook een van die kompetisiepryse en ’n musiekvideo vir die liedjie sal eersdaags bekendgestel word. 

“Die regte woorde ontbreek om die liedjie Dalk ten volle te beskryf. Maar die liedjie raak  diep aan jou binneste. Dit roer jou met swaar emosie en terselfdetyd ’n tikkie  opgewondenheid. Hierdie lied dra ’n belofte van sukses met hom saam en gaan  ongetwyfeld ’n duidelike merk laat,” het Jennifer gesê.  

  • Dalk is nou op alle digitale musiekplatforms beskikbaar.