Jean Henry se eerste enkelsnit is hier!

FOTO: Verskaf

Jean Henry se eerste enkelsnit Waarmerk is pas bekendgestel. Dié liedjie is geskryf en gekomponeer deur Jean Henry en sy vriendin Rhoda-Ann. Wesley van der Westhuizen het die snit vervaardig. 

Waarmerk is die eerste Afrikaanse snit wat Jean Henry aanpak en is opgewonde om dit met mense te deel. “Ons het die liedjie tydens lockdown geskryf. Die liedjie beskryf hoe iemand se teenwoordigheid ’n mens kan laat voel: Wanneer iemand die vermoë het om jou meer eg aan jouself te laat voel, ’n kalmte oor jou bring. Ons wou hierdie idee in die lirieke, sowel as die musiek vasvang,” het hy gesê. 

Die eindresultaat is ’n pragtige lied wat hope sentiment en verlange by die luisteraar gaan wakker maak.

Jean Henry is veelsydig en het hom vereenselwig met ’n groot verskeidenheid van rigtings. Hy is ’n gekwalifiseerde rekenmeester, besigheidseienaar, akteur, model en musikant. 

“Ek hou daarvan om ’n goeie balans te vind tussen syfers en die kunste, ’n kombinasie van linker en regterbrein aktiwiteite. Dit sal ’n droom wees om elke dag kreatief te verkeer en vir ander op te tree, maar dit is belangrik om as kunstenaar ’n stabiele inkomste te genereer. Veral in vandag se wêreld. Dit help my om nie te veel druk op myself te plaas as dit kom by musiek nie en eerder net my passie met ander te deel.”


“Sodra die musiek uit is, behoort dit nie meer aan my nie in die sin dat elke luisteraar dit sy/haar eie kan maak. Dit is tog hoe ek na musiek kyk, hoe dit jou laat voel in daai stadium van lewe.”

  • Waarmerk is nou op digitale musiekplatforms beskikbaar.