FOTO: HJ Click Photography
Die sanger en liedjieskrywer Eugene Nel se musiekvideo vir sy liedjie Boer Genoeg is onlangs vrygestel.
Hierdie 21-jarige musikant van Alberton het op die ouderdom van twaalf sy heel eerste kitaar gekry. Sy ouers het gou agtergekom dat hy passievol is oor die kitaar en hom vir lesse gestuur. Ná hy sy grade voltooi het – binne slegs twee jaar – het hy die dromme aangedurf en homself geleer. Hy is ook tans besig om klavier- en sanglesse te neem.
Boer Genoeg kom uit Eugene se eie pen en vertel die verhaal van Eugene wat verlief raak op ’n plaasmeisie. In ’n poging om haar te beïndruk probeer dié stadsjapie sy lyf plaasjapie hou. Sy stel hom dan gerus met die volgende woorde: “As jy kan braai is jy man genoeg, man genoeg vir my; As jy kan dans is jy die regte een, die regte een vir my; As jy kan bakkie ry, en biltong sny is jy boer genoeg vir my; Maar as jou lippe lekker vry, gaan jy nog lekker kry.”
Eugene sê dat hy daarvan hou om liedjies te skryf, te toonset en dit te vervaardig. Hy het onlangs ’n Lucas Maree-liedjieskryf werkswinkel bygewoon waar hy waardevolle inligting oor liedjieskryf bekom het. Hy skryf wel uit ander mense se perspektief sodat sy musiek universeel aanklank kan vind.
“Ek hou daarvan om my idees van lirieke neer te skryf en instrumentele stukke op te neem, sodat ek dit later in ’n nuwe liedjie kan gebruik. Ek het al oor die jare besef dat daar soveel meer is as om liedjies oor liefde te skryf,” het Eugene gesê.
Eugene het ook sy eie platemaatskappy Eulen Records waar hy met sy eie ateljee spog. Hy spog ook met ’n diploma in klanktegnologie. Hy is tans besig met sy BSc klankinginieurs graad by die Academy of Sound Engineering.
Hy het ook voorvertoings vir verskeie bekendes soos Pieter Koen, Lizz Meiring, Manie Jackson, Jakkie Louw en Anton Botha gedoen.
Kyk die musiekvideo hier:
- Boer Genoeg is nou op verskeie digitale musiekplatforms beskikbaar.