FOTO: Okaydeer.co.za
Stefan Jansen het onlangs sy eerste enkelsnit Verdienste en Genade vrygestel. Ons kon eenvoudig nie die kans laat verby gaan om dié sanger van nader te leer ken met ons 30 blitsvrae.
LEES OOK: Stefan Jansen: ‘Almal verdien liefde en vergifnis’
Beskryf jouself in drie woorde.
Dis altyd so ’n klein bietjie awkward om jouself te beskryf, so toe vra ek hulp… My vriende reken ek is opreg, passievol en nederig.
Wat krap jou vinnig om?
Oneerlikheid. Mense dink “eerlikheid” is om nie iets onwaar te sê nie, maar hulle vergeet dat oneerlikheid ook is om stil te bly oor die waarheid.
Wat maak jou gelukkig?
Akoestiese kitare en alles wat daarmee saam gaan!
Wat is jou gunsteling plek in die wêreld om na te reis? Namibië. Dis in my bloed.
Gunsteling fliek?
Walk The Line (Die Johnny Cash-verhaal)
Gunsteling TV-reeks?
Daar’s niks wat so lekker kyk soos toets krieket en National Geographic nie. My gunsteling reeks was Our Planet.
Gunsteling drankie?
Tequila (shhhh…)
Gunsteling kleur?
Bruin
Gunsteling kos?
Ek gaan maar net sê jy kan my in ’n strik vang met ’n Aartappel…
Gunsteling musiek?
Paul Simon of Dire Straits
Wat wou jy word toe jy klein was?
’n Veëarts.
Hoe ontspan jy?
Gewoonlik backstage op my rug op ’n bank! By die huis: Op my stoep met ’n kitaartjie in die hand.
Wat is die eending waarsonder jy nie kan lewe nie? Musiek. Dis so eenvoudig soos dit. Ek wou sê “kitare” maar julle weet dit nou al…
Saam wie sal jy eendag op ’n eiland gestrand wil wees?
John Mayer.
Wat is die beste geskenk wat jy al gekry het?
’n Horlosie van my pa af nadat ek matriek geslaag het. Ek weet nie of hy bly of net verlig was nie!
Wat is die slimste besluit wat jy al gemaak het?
Om nie op te hou glo in myself nie deur VOLUIT musiek te maak en my fokus en tyd daaraan te spandeer. Dit was die grootste ding wat ek gedoen het waaroor ek in ’n spieël kan kyk en trots wees op myself.
Wat is die beste raad wat jy al gekry het?
Werk hard, maar wees geduldig!
CD wat tans in jou motor speel?
Cat Stevens: Tea for the Tillerman
Watter boek lees jy tans?
Mindset: Dr. Carol Dweck
Gunsteling emoji?
🤘
Honde of katte?
Honde. Ek hou van daai soorte katte wat hulle soos honde gedra.
Facebook of Instagram?
Balans is alles…
Koffie of tee?
Koffie
Whatsapp of bel?
Mag ek sê “bel oor WhatsApp”? Dis die ultimate middeweg!
Apple of Android?
Apple. Better the devil you know…
Vertel ons ’n interesante feit oor jouself?
Ek is nie bang vir water nie, maar as iets onderwater aan my voete raak sal ek ’n hartaanval kry! Ek vermy water as ek nie kan sien wat daar onder aangaan nie…
Wat is jou slegste gewoonte?
Ek oordink amper alles. Dis omdat ek niks wil mis nie, maar dit werk mens self soms op vir geen rede nie.
Oggendmens of naguil?
Ek is altyd vroeg op, maar ek werk altyd laat. My gunsteling is oggende, want dit voel of die hele dag oopgestrek voor jou lê. Soveel moontlikhede…
As jy enigeen kon ontmoet (lewendig of dood), wie sou dit wees?
Paul Simon.
Drie mense saam met wie jy eendag om ’n etenstafel wil sit?
Laurika Rauch, Valiant Swart, Danie Du Toit.
- Verdienste en Genade is nou op alle digitale musiekplatforms beskikbaar.