Rinél Day se nuwe album uit ‘persoonlike seer’ gebore!

FOTO: Verskaf

“Die album gaan luisteraars weer hoop, moed en krag gee.” Só sê Rinél Day oor haar derde ateljee-album, Ek Het Opgestaan, wat onlangs die winkelrakke en digitale musiekplatforms getref het. 

Hierdie album, waaraan Rinél vanaf 2017 skaaf en skuur, is deur die sangeres se persoonlike seer, liefde en genade gebore. “Ek glo en vertou dat soveel mense hierby kan aanklank vind en dat die album iemand daarbuite sal inspireer om uit hul moeilike omstandighede op te staan,” gesels Rinél in ’n onderhoud met Fanie Nel, die redakteur en stigter van Afrikaanse Musieknuus

LEES DIE ALBUMRESENSIE HIER

Uit die talle liedjies wat vir die album geskryf is, het net vyftien daarvan dit op die album gemaak en dit was nie ’n maklike taak vir Rinél nie… “Ek het baie staat gemaak op leiding van die Here. En toe word daar ’n album met dansnommers gebore wat sommer ’n dieper beteknis ook het.” Een van dié nommers is Breek Die Mure Af wat onlangs as ’n enkelsnit vrygestel is. 

Breek Die Mure Af is vir enige een wat al ooit seer ervaar het. Ons is so geneig om mure om ons harte te bou oor ons onsself beskerm, so hierdie speelse liedjie vertel jou die storie van dat dit okei is om jou mure vir iemand te laat sak. Jy mag weer vertrou en lief hê.”

“Ek was al deur baie en is steeds geneig om dáái mure te lig, maar gou-gou breek ek hulle weer af en besef dat mens nie ander mense kan blameer vir wat iemand aan jou gedoen het in jou verlede nie,” verduidelik die donkerkop-sangeres. 

En die album het haar sterker aan die anderkant laat uitkom. Want oor die afgelope ses jaar moes sy die wind van alle kante voel…  “Ek moes myself gaan vind en meer leer oor die persoon agter die talent. Ek moes gaan en meer in my geloof vertrou en meer aan die Here vas klou… sonder Hom sou ek nie hierdie gesond word proses kon deur maak nie. So hoe het ek emosioneel gegroei? Ek is sterker, ek het meer selfvertroue en ek staan bankvas met God reg om my.”

Wanneer Rinél egter nie sing of musiek maak nie, is sy besig om te skryf vir haar blog. My Millennial Blog is tydens die Covid 19-grendelstaat gebore om vroue te leer hoe om stylvol op ’n knap begroting te lyk. “Soos wat die blog begin groei het, het ek dit vir eers gestaak omdat ek baie dingetjies moet verander het en dit meer na ’n blog wat vrouens kan leer hoe om ’n ekstra inkomste te genereer vanuit ’n blog of net op sosiale media te omskep.”

Ten spyte van al die seerkry en moeilike omstandighede is daar steeds ’n vonkel in Rinél se oog en besef sy vir die eerste keer dat sy werklik opgestaan het. 

WEN!

  • Twee lesers staan elk die kans om ’n eksemplaar van Rinél Day se nuwe album te wen deur ’n eenvoudige vraag te beantwoord: Wat is die titel van Rinél se nuwe enkelsnit?
  • Stuur jou antwoord met jou naam, van, selfoonnommer en fisiese adres (wat ’n areakode insluit) na kompetisies@afrmusieknuus.co.za voor of op Maandag, 2 November 2020. Gebruik RINEL DAY KOMPETISIE in die onderwerpveld.
  • Die wenners sal lukraak deur Afrikaanse Musieknuus se redakteur bepaal word en standaard terme en voorwaardes geld.