Deon Meiring stel nuwe enkelsnit, kortspeler ‘Grensbewoner’ vry

FOTO: Etienne Swanepoel

Deon Meiring het homself die laaste paar jaar stewig as solo kunstenaar in die Suid-Afrikaanse musiekindustrie gevestig. Oorspronklik bekend as voorsanger van die groep Glaskas en lid van die duo Dans Dans Lisa, ken aanhangers Deon ook vir die vrystelling van sy projekte Die Slaapkamer Sessies, Maandeinde en sy Desember 2019 kortspeler, Hier By Ons. Vandag, 16 Oktober 2020 stel Deon sy nuutste kortspeler, Grensbewoner vry. Die titelsnit van die kortspeler is ook sy nuwe enkelsnit.

’n Groot deel van die kortspeler Grensbewoner is geskryf deur die loop van 2018 met sy Maandeinde projek waar hy maandeliks ’n liedjie geskryf het en dit in ’n YouTube video gedeel het. Hy het toe onlangs weer daaraan geskaaf en ook aan splinternuwe liedjies apart van die projek vir die EP vrystelling.

Grensbewoner se musiek is ook te hoor in die nuwe kykNET reeks, Kompleks. Skrywer van die reeks Louis Pretorius het die musiek en lirieke juis via Deon se Maandeinde projek op YouTube gehoor en by die teks van die reeks ingeskryf, en sodoende het Grensbewoner die temamusiek van die reeks geword. Tydens sy skaafwerk, het Deon elemente van die musiek herskryf om meer van die reeks se inhoud en gevoel te weerspieël. Die Grensbewoner kortspeler bevat ook ’n samewerking met Koos Kombuis spesifiek vir die reeks deur Infinity Films vervaardig.

Die inspirasie vir die kortspeler kom dan juis vanaf Deon se Maandeinde projek en die idee dat hy as liedjieskrywer nie noodwending ’n maandelikse salaris vir sy werk verdien nie. “Die musiek ontstaan eers, sonder enige belofte van ’n betaling. Ek wou graag met dit in gedagte myself uitdaag om elke maand iets te deel sonder dat ek vooraf weet wat daarvan gaan word. So dan het ek maar elke maand geskryf oor die dinge in my lewe soos die jaar vorder,” sê Deon.

Die liedjies is tydens inperking in Deon se huis opgeneem, en dan vir vervaardiger Johan Viljoen gestuur om verder daaraan te werk en ekstra instrumente by te voeg. Met eenvoudige instrumentasie is die musiek akoesties en doelbewus redelik vry opgeneem met lirieke in die voorgrond en musiek lig en gemaklik in die agtergrond.

“Ek dink daar is in al die liedjies iets van ’n verlange – soms na ’n persoon, soms na ’n ander tyd of ander plek. Ek voel verlange is menslik, dalk onvermydelik, maar in die liedjies probeer ek ook uitwerk hoe om darem vorentoe te kyk. Vandaar die idee om op ’n grens te woon: tussen dit wat verby is en dit wat nog kom.” 

GRENSBEWONER AS ENKELSNIT

Grensbewoner, Deon se eerste enkelsnit vanaf die nuwe kortspeler, is reeds in Januarie net na ’n seevakansie geskryf. “Die gevoel van ’n jaar wat voorlê met al die opwinding en onsekerheid daarvan en my neiging om terug te verlang na die vorige jaar het my aanvanklik geïnspireer,” sê Deon.

As temalied van ‘Kompleks’ met elemente van nostalgie en hoopvolheid, kan bekfluitjie en aandagtige lirieke gekombineerd met Deon se stem en kitaar op die ritmiese akoestiese melodie gehoor word.

Grensbewoner as enkelsnit gaan oor die gevoel dat die hemel en dit wat net doodgewoon is nie so ver van mekaar verwyder is nie, maar dat ek dikwels vasgevang voel op die grens tussen daardie twee uiterstes.”