FOTO: Patrick Furter
Reynardt Hugo, se tweede enkelsnit, Diep Binne My, is op 2 Oktober vrygestel, en die lied oortref almal se verwagtinge. Die musiekvideo van hierdie inspirerende pop-snit, is ook nou pas vrysgestel.
LEES OOK: Reynardt Hugo bring hoop met sy tweede enkelsnit
“Die video is soos ’n baie kort, kortfilm. Die storie handel oor ’n paartjie wat by ’n kruispad gekom het in hulle verhouding/huwelik, waar hulle moet besluit of hulle wil opgee of werk aan die verhouding. Die video is geskiet by ’n huis in Northcliff in Johannesburg. Dit wys op ’n baie eerlike manier met behulp van die kamera en toneelspel, hoe eerlik en rou situasies in ’n verhouding kan wees,” vertel Reynardt.
Die aktrise in die video is Shana Mans van Kaapstad en Suna Roberts het die stilering en grimering behartig. Johannes Schoutsen en Reynardt het die video vervaardig, terwyl Patrick Furter verantwoordelik was vir al die foto’s agter die skerms.
Kyk die musiekvideo hier:
Die liedjie is geskryf deur Reynardt en Sean Butler. “Die lied het vir my ’n baie spesiale betekenis, aangesien ek myself in soortgelyke omstandighede bevind het. Ek moes besluit of ek my lewe wil omdraai, vergifnis vra en aan myself werk – om by ’n plek van waarheid uit te kom. Dit is nie altyd maklik nie, dit is ’n moeilike pad om te stap, maar definitief die moeite werd. Ek dink oud en jonk sal daarby aanklank vind, omdat dit ’n verskillende betekenis vir elkeen kan inhou,” voeg hy by.
Reynardt is ’n gewilde Suid-Afrikaanse akteur, musikant, liedjieskrywer, motiveringspreker en skrywer en is steeds te sien in kykNET se Binnelanders.
- Diep Binne My is nou op verskeie digitale musiekplatforms beskikbaar.