Hope nostalgie met nuwe inryteater wat lewendige optredes aanbied

FOTO: Verskaf

Wanneer Jay, Leah, Willem Botha en Lee Scott op Saterdag, 17 Oktober in die Noorde van Kaapstad kuier, gaan hulle die nostalgiese gevoel van ’n inryteater weer opnuut lewe en betekenis gee met die eerste Drive In Show by die Atlantic Inryteater. 

Tydens dié konsert, wat ook die amptelike opening van die Atlantic Inryteater in Kaapstad is, gaan aanhangers in hul voertuie kan kuier terwyl hulle die regstreekse konsert op een massiewe skerm kan geniet. 

“Nie net het Covid-19 ons uitgedaag om ons manier van produksie te verander nie, dit het ons ook gedwing om kreatief te raak oor hoe ons geleenthede op ’n nuwe vars wyse aan die publiek bied,” het Jaco Loubser, Uitvoerende hoof en vervaardiger van Homebrew Films, wie se breinbaba hierdie is, vertel. 

“Ons het ’n 100㎡-skerm opgerig waarop die konsert uitgesaai word en aanhangers sal op ’n spesifieke frekwensie op hul motorradio’s na die konsert luister terwyl die optrede regstreeks binne in die studio plaasvind,” het Loubser verduidelik. 

Dié konsert op 17 Oktober is die eerste konsert wat by die Atlantic Inryteater in Kaapstad aangebied word en ’n beperkte aantal kaartjies word ook beskikbaar gestel om saam met die kunstenaars in die ateljee, van waar die konsert regstreeks uitgesaai word, te kuier. 

“Ek kan nie wag vir dié konsert nie want dis beslis ’n eerste in sy soort en ek dink konsertgangers gaan dit ook geniet om gemaklik – en veilig – te wees in hul voertuie,” het Jay opgewonde vertel. 

Om in te pas by die inryteater-styl sal daar ’n roadhouse wees met Tiaan Langenegger, van Kokkedoor-faam, wat vir verskeie kosopsies sal sorg en die kunstenaars sal ook na afloop van die konsert gesig wys.

Die konsert vind plaas by die Atlantic Inryteater by die Atlantic Studios (Montaguerylaan 7, Montague Gardens, Milnerton) en begin om 19:00 met die hekke wat reeds om 17:30 open. Dit is nie bespreekte parkeringarea’s nie, dus moet kaartjiehouers vroeg arriveer vir ’n goeie parkeerplek. 

Alle BBP-kaartjies vir die ateljee is reeds uitverkoop dus sal aanhangers moet spring om hul voertuigplekke te bespreek. Kaartjies kos R300 per motor (met ’n maksimum van 4 persone in ’n motor) en R375 (met ’n maksimum van 5 persone in ’n motor). 

Kaartjieverkope het reeds geopen en is slegs by Quicket beskikbaar hier.