Crimson House se Riaan Smit reik Afrikaanse liedjie; musiekvideo uit

FOTO: Verskaf

Die Namibiër Riaan Smit, wat veral bekend is as voorsanger vir die groep Crimson House, se eerste Afrikaanse enkelsnit word eersdaags uitgereik. Riaan het al die verhoog met sterre soos Bryan Adams, Shaggy, Sean Paul en The Chainsmokers gedeel. Hy het ook twee solo-albums en vier albums saam met Crimson House op sy kerfstok.  

Vandag (8 Oktober) is die musiekvideo vir dié snit, wat Hoe vêr is die Hemel heet, uitgereik. Die liedjie is gebore uit frustrasie om nie te kan optree nie en is binne minute geskep nadat nuus oor ’n moontlike tweede gredelstaat opspraak gemaak het. Die boodskap van die liedjie is om alles te vat soos dit kom en te hoop dat alles weer na normaal sal terugkeer.   

“Ek het nie gedink ek sou ooit in Afrikaans skryf nie, maar ek wou my gevoelens op daardie tydstip neerpen – my vrese, hoop en die hunkering om weer op te kan tree. Die liedjie het my asem weg geslaan en dit voel of ek nie eers die pen vasgehou het nie. Vir my is die Hemel ’n musiekfees met mense wat glimlag en saam hul gunsteling kunstenaar sing,” het Riaan gesê.

Riaan het in die Caribbean gewoon voor die grendelstaat aangekondig is. Hy het inderhaas na Arizona gevlieg vir ’n konsert. Dis ook hier waar die Cayman-eiland se lughawe gesluit het en hy homself met net ’n naweek se klere in sy geboorte land, Namibië bevind het.  

Die musiekvideo is deur Renier de Bruyn van Endemic Productions verfilm en speel af by die T1 ateljee in Windhoek asook op ’n plaas net buite die stad. Nina Burger en Esmarie Boshoff kan saam met Riaan gesien word asook Adam Brandon Kirby (dromme) Llewellyn Anandale (baskitaar) en Vaughn Ahrens (kitaar).

  • Hoe vêr is die Hemel is vanaf 23 Oktober op alle digitale musiekplatforms besikbaar. 

Kyk die musiekvideo hier: