Refentse nooi jou na die ‘diepste kamers van sy hart’ met nuwe album

FOTO: Verskaf

Refentse se nuwe album, Wandel in my woning is ’n meesterstuk van kleurryke diversiteit – een wat jou in nooi na die diepste kamers van sy hart.

Dit wys dat hy volstoom aanhou om musiek te maak vir lekker kuier, maar ook dat hy oorgehaal is om dit wat ons van musiek en liriek verstaan uit te daag, werklik nuut te skep en grenslyne met reuse spronge te verskuif.

In die elf snitte wat die album omvou, word die liefde gevier, gemeenskaplike grond verken, die goeie in die lewe geniet, stereotipes gekonfonteer en die soeke na dit wat dieper en hoër as onsself is met ’n treffende broosheid en egtheid in woord en melodie vasgelê.

Die album is net so ryk aan taal- en musiekstyl-verskeidenheid as wat dit aan inhoud is, met Afrikaans, Engels, Sesotho, Zulu, rock, boeremusiek, mbaqanga, reggae, techno, alternative, rock ’n roll, ’n goeie dosis kletsrym en meer wat saam om een vuur sit en kuier en deurgans verras met ongewone progressies en onverwagte wendings. Dis tegelyk diep poëties, eksperimenteel, tong in die kies en loslit-lekker!

Snitte soos What a boytjie, Daai deng, Sannie die loopdop en Dans Meraai is gerat vir ’n amper onverantwoordelik lekker partytjie, terwyl – aan die ander kant van die spektrum – snitte soos LeweBoerkind, Johannes en die aangrypende Stormnag nie skroom om tot in die diepste diep te delf nie. Die middel van dié twee pole word uitstekend gevul deur onder meer Wondervrou en Trippe

Trappe Trone, waarop die titel van die album gebasseer is.

Wandel in my woning is ’n juweel van nuutskeppings en die verpersoonliking van eenheid in diversiteit – ’n album wat jou versameling sonder enige twyfel sal verryk… en jou nie dieselfde mens aan die ander kant van die luister sal laat uitstap nie.

  • Wandel in my woning is vanaf Vrydag, 9 Oktober landwyd en op alle digitale musiekplatforms beskikbaar.