DZL sing oor ‘vernuwing’ in nuwe enkelsnit

FOTO: Francois Olivier

Hulle was nog nooit lief daarvoor om op hulle loure te rus nie en die Covid-19 inperkings het behoorlik hulle voete laat jeuk. Die manne van DZL het dié tyd gebruik om bietjie in die bos te kuier en ook aan ’n splinternuwe enkelsnit, Wees Anders, te werk wat rondom die tema van vernuwing gesentreer is.

“As ons eerlik met onsself is, sal ons erken dat die grendelstaat en tydperk van afsondering ons tot stilstand gedwing het om ons lewens van nader te bekyk. Mens het nie altyd gehou van wat jy sien nie! Ek self moes erken ek sukkel met baie foute in my lewe, wat my verhouding met die Here en die naby aan my kelder. Hierdie lied is dus eintlik ’n oproep na die Here om my hart aan te raak en ’n erkentenis aan myself dat ek moet verander,” vertel Andries Potgieter.

Die afgelope paar maande het baie mense ook laat besef wat belangrik is.

“Baie van ons is vir maande van ons families en geliefdes geskei en kon net via foon of video-oproepe met mekaar praat. Sulke tye laat jou ook besef waar jou prioriteite moet wees; die Here, jou familie en geliefdes want die res maak nie regtig saak nie,” voeg Wiaan Fourie by.

Wees Anders is uit die pen van Andries en Wiaan en die liedjie is ook deur Wiaan vervaardig.

“Dit was die eerste keer dat ek amptelik agter die vervaardigers toonbank ingeskuif het, maar dit was ’n ongelooflike ervaring om van die begin tot die einde aan die liedjie te werk. Die gogga het nou behoorlik gebyt en ek gaan voortaan meer op vervaardiging fokus aangesien ons ’n volledige opname studio het,” sê Wiaan.

Die twee bedrywige manne is tans ook besig met onder andere artikels vir tydskrifte soos die Kruger Magazine en onder die vaandel van Toerbroers reis hulle ook saam met Suid-Afrikaners na opwindende plekke regoor die wêreld.

Wees Anders in nou op verskeie digitale musiekplatforms beskikbaar.

Luister die liedjie hier: