FOTO: Paige Fiddes
Die Afrikaanse rockband, Kontras, se debuutalbum, Vir Konteks, is uiteindelik beskikbaar op alle digitale platforms. Dit volg kort op die hakke van enkelsnitte soos Die happy song, Mors jou drank, Die Ruimtevaarder en Velde – waarvan laasgenoemde met ’n musiekvideo spog. Mors jou drank het selfs vir meer as tien weke op die Kovsie FM Clip Hard Rock-trefferslys gepronk.
Met dié album het Kontras ’n punt daarvan gemaak om die album iets vir album te maak. Die album gee konteks aan dit wat Kontras is – liefdesliedjies, partytjieliedjies en soms liedjies met ’n politieke ondertoon. Dit bou ’n brug tussen alternatiewe en kontemporêre Afrikaanse musiek deur gebruik te maak van elemente van elke genre. Vir Konteks knoop in met die huidige globale en politiese omstandighede van die afgelope tien jaar, maar is ook nie bang om die mens as individu onder die mikroskoop te plaas nie.
Liedjies soos Chemikalieë, Parafien paradys en Die mislukte rewolusie is nie bang om die status quo van Afrikaanse kultuur te bevraagteken nie, terwyl tong-in-die-kies liedjies soos Peruvian Flu en Mors jou drank herinner om jouself nie altyd te ernstig op te neem nie. Velde, Die Ruimtevaarder en Die happy song herinner weer dat selfs al lyk die lewe soms moeilik, dat daar altyd hoop, gewoonlik gevind deur liefde van jou naastes, is. Gee Meer en Sprokies katastrofies handel weer oor die worsteling binne ons eie psige en vat onderwerpe soos angs, selfverwyt en geestesgesondheid direk aan. Sout in my are is ’n huldeblyk aan mense wat enige iets sal doen om brood op die tafel te sit, terwyl Jou eie Kruisiging bybelmetafore gebruik om die einde van ’n verhouding te visualiseer.
“Ons as mense mis soveel keer die ware konteks agter wat vir ons gesê word deur ander. Selde krap ons dieper as die oppervlak. Vir Konteks is ’n dieper krap vir ’n groter jeuk, wat ons voel ons nie kan bereik nie,” het Jacques Groenewald, een van die lede gesê.
Kontras bestaan uit Jacques Groenewald (hoofsanger), Daniël Botha (dromme), Andrew Veldman (kitaar) en Louwrens Labuschagne (baskitaar) en is in 2018 gestig.
- Vir Konteks kan nou op alle digitale musiekplatforms soos Apple Music, Spotify, Deezer en JOOX gevind word.