Julanie J gesels met ons oor eerste Afrikaanse-album; lied saam met Ivan Roux

FOTO: Willem Botha 

Die talentvolle sangeres en liedjieskrywer Julanie J se eerste Afrikaanse album Mooi het pas die lig gesien. Dit volg op die sukses van drie Afrikaanse enkelsnitte wat sy oor die afgelope jaar uitgereik het. Julanie vertel dat die liedjies op dié vollengte-album elk ’n kort liefdesverhaal is. Ons het met haar gaan gesels.  

Baie geluk met jou eerste Afrikaanse vollengte album. Hoe voel jy daaroor?

Dit voel so vreemd om nie meer in studio te wees nie, maar ek is só opgewonde dat ek uiteindelik klaar is en dat ek hierdie liedjies op ’n verhoog kan opvoer.

Hoe het jy en Warner Music South Africa dit reggekry om ’n album gereed te kry met die inperkings van die 2020 wêreldpandemie?

Ek dink enige iets is moontlik as jy ’n goeie span om jou het en ek is dankbaar dat Warner my ondersteun en saam met my die pad stap. Dit help natuurlik dat alles nou digitaal is.

Watter liedjie op die album lê jou die naaste aan die hart?

Dis nie my gunstelingliedjie nie, maar een wat naaste aan die hart is, is Mooi. Ek het hom geskryf voor Sandkastele toe ek iemand verloor het. Ek het besef dat my wens vir almal of jy nou my beste vriend is of groot vyand dat ek vir jou mooi en goed wil wens, ons lewe in ’n vreemde tyd wat dit meer normaal om te hoor van siekte en moorde as die goeie dinge en daarom het ek hierdie liedjie geskryf om myself en die om my te seën.

Vertel ons meer van jou nuwe enkelsnit Liefde wat ons heelmaak.

Ek wou graag ’n liedjie uitbring met internationale klanke en voel dat nou is die tyd om goeie Afrikaanse musiek uit te bring. Die liedjie self gaan oor ’n “breakup”. Ek dink iewers in almal se lewe word ’n mens se hart gebreek en is iets wat ons almal maar moet deurwerk en oorkom.

Hoe het jy besluit om Ivan Roux te nooi om hierdie nuwe enkelsnit saam met jou te sing?

Ek wou baie graag ’n warm, diep en rasper stem in bring en het lank gewonder wie saam met my die liedjie kan dra en toe ek so stem hoor toe weet ek dis perfek. Dit was vir my so ’n eer toe Ivan Roux  aanboord kom en hy het definitief my liedjie verryk!

Luister die liedjie hier: 

Wat was van die uitdagings tydens die maak van die album?

Ek dink die groot besluit was watter liedjie kom op die album en watter een bly ’n demo. As ’n liedjieskrywer eerste voor ’n kunstenaar het ek seker trippel die hoeveelheid materiaal gehad. Die keuringsproses was lank en treurig. Ek het in totaal 26 liedjies geskryf vir die album.

Wat was vir jou die lekkerste deel van die maak van die album?

Natuurlik was die skryf van die liedjies vir my baie lekker, maar my gunsteling was om met so baie nuwe mense te werk. Mense wat kreatief en vol passie gewerk het my geïnspireer het om nooit op te hou droom nie en hard te werk, want jy bepaal of jou drome waar word of nie.

Wat is die algemene gevoel van die album?

Mooi is vol vars en lewendige klanke, vol regte stories en oomblikke. Ek het so baie van myself geleer in hierdie tyd – ek het myself ontdek en geleer van liefde. Ek hoop om almal se gemoed te verander as hul daarna luister.

Vertel ons meer van die aanlyn vertoning om die album bekend te stel op 17 September?

Omdat ons nou nie meer as 50 mense by ’n konsert mag hê nie het ons besluit om eerder dit aanlyn te doen. Ek en my orkes voer 8 van die 10 liedjies op van die album, deel stories en verskaf vermaak vir die hele gesin. Dis ’n vol produksie net soos wat mens dit by ’n teater sou kyk. En kaartjies is beskikbaar by iTickets.

Wat is jou planne vir die res van die jaar?

Ek hoop dat ek hierdie album sal kan optree en hopelik kan toer.  Natuurlik sal alles afhang van die land se reëls maar, ek is gereed om nuwe herinneringe te maak.