Kragtoer op pad met Leah en Lee Scott se aanlynproduksie

FOTO: Verskaf

Wanneer Leah en Lee Scott kragte saamsnoer in hul produksie, Battle of the Voices, is dit ’n kragtoer van groot internasionale treffers wat deur dié twee talentvolle sangers vertolk word. Op Sondag, 13 September om 17:00, kan aanhangers dié produksie weer geniet – met nuwe repetoire wat slegs eenmalig aanlyn beskikbaar sal wees. 

Gedurende dié produksie daag die twee musiekvriende mekaar uit om ’n paar moderne pop-treffers van die teenoorgestelde geslag te sing en altwee kwyt hulself uitmuntend van hul taak. 

“Battle of the Voices is vir my elke keer ’n hoogtepunt om saam met my vriend en kollega Lee te sing wat my omtrent op my tone hou met sy uitdagings en ongelooflike stem,” het Leah vertel. 

Keurspelle van immergroen treffers sal kykers op ’n nostalgiese reis neem en die voete laat jeuk terwyl sielvolle ballades weer die hart sal aanraak. 

“Ons doen elke jaar ’n Battle of the Voices-toer, maar Covid-19 het vanjaar gekeer dat ons die pad kon vat met ‘n nuwe show,” het Lee met teleurstelling vertel. 

Dié aanlynkonsert verskil van die toere wat aanhangers al bygewoon het met ’n paar nuwe uitdagings, treffers en kwinkslae van Leah en Lee. Hul eie treffers wat op plaaslike radiostasies gespeel word, is ook in Battle of the Voices ingewerk. 

“Hierdie vertoning is vir enige iemand wat hou van musiek – maak nie saak watter era hulle gunsteling is nie,” het Leah vertel. 

“Dis ’n goeie opsomming van groot treffers oor die jare heen en dié konsert sal beslis kykers opbeur met ‘n kombinasie van bekende musiek en ons eie bekende liedjies,” vertel Lee. 

Kyk hier na ’n voorsmakie van die produksie:

Leah het die Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf gestormgeloop met treffers soos Met Jou Klere Aan, Volmaan, Jou Liefde en Ek Mag Jou Mis en die meer onlangse Girls Night. Sy was ook vir twee agtereenvolgende jare Bok Radio se Vroulike kunstenaar van die Jaar en het al verskeie musiektoekennings ingepalm. Sy is ook tuis op die silwerskerm met twee films As Jy Sing en Susters waarin sy die hoofrolle vertolk het. Sy het ook in Suid-Afrikaners se harte gekruip as voormalige aanbieder van die gewilde Boer Soek ’n Vrou-realiteitsreeks op kykNET.

Lee Scott het het bekendheid verwerf as lid van die Afrikaanse groep, Hi-5, en ook aan verskeie verhoogproduksies deelgeneem waaronder Abba Magic SA, Reik na die Sterre – Die Musical en vele meer. Lee was ook deel van Jennifer Rush se Suid-Afrikaanse toergeselskap in 2015. Sy musiekvideo vir sy enkelsnit, Perfekte Vreemdeling, het in kykNET se Musiekvideo-projek gewen. Lee is ook aanbieder van die gewilde musiekprogram, Kliphard, wat vanaf Donderdag, 3 September weer uitgesaai word met ’n nuwe baadjie as Kliphard Unplugged op SABC 2 om 19:30. 

Battle of the Voices vind aanlyn plaas op Sondag, 13 September om 17:00 plaas. Kaartjies is slégs by Quicket beskikbaar. Klik hier om jou kaartjie te koop.