Twee van Suid-Afrika se geliefkoosde kunstenaars snoer kragte

FOTO: Verskaf

Juanita du Plessis en Snotkop het geen bekendstelling nodig nie en het besluit dis tyd vir hulle om ’n projek saam aan te pak.

Ruk Die Dam is die derde enkelsnit vanaf Juanita se jongste album Dis Tyd, wat vroeër vanjaar vrygestel is. 

Juanita en Snotkop het by Krone 6 oor ’n moontlike colab gesels en Snotkop het dadelik ja gesê omdat hy gereken het dié kombinasie goed sal werk – en die eindproduk spreek vanself. Ruk Die Dam is volgens hulle ’n lekker catchy liedjie en die video is fresh en pret…  ’n Lekker somertreffer as’t ware. 

Juanita en Franja het die melodie en die koor van Ruk Die Dam geskryf, maar Juanita het gevoel dat Snotkop ook sy eie stempel op die liedjie moet afdruk, daarom het sy hom gevra om te help skryf aan die verse.

“Ek het die voorreg gehad om al baie die verhoog te kon deel met Snotkop en ons ken mekaar al vir baie jare. Sy musiek het nog altyd my voete laat juk en daarom wou ek baie graag iets saam met hom opneem. Ek is baie dankbaar vir sy bydrae en baie opgewonde om hierdie video met almal te deel. 2020 het die mat onder ons almal uitgeruk, maar ons gaan met hierdie liedjie die res van die jaar ruk,” het Juanita gesê.

Snotkop is bekend vir sy besonderse kletsrymvaardighede, energiebelaaide ritmes en tong-in-die-kies, skerpsinnige lirieke en sê: 

“Juanita is probably die niceste mens wat jy sal raakloop. Ons het vir een of ander rede ’n lekker energie saam en Juanita weet wat sy wil hê en ken haar mark en aanhangers goed. Dis ook so met my, so ek dink ons het iets besonders gemaak wat die twee wêrelde bymekaar bring en ek is ’n massive Juanita fan. Ek love haar. Die dam gaan behoorlik geruk word die somer”

Kyk die musiekvideo vir Ruk Die Dam hier: 

  • Ruk Die Dam is beskikbaar op alle digitale musiekstroomdienste en kan hier gevind word.