FOTO: Verskaf
Rooksein is ’n Potchefstroomse musiekgroep, wat bestaan uit Megan Danner, Dian Maritz en Renier van der Westhuizen het onlangs by Universal Musiek ’n platekontrak geteken.
Hulle het mekaar in Potchefstroom ontmoet, Megan en Dian het by Pukke se talentfees ontmoet waar Renier hulle raakgesien het en hulle dadelik gekontak het sodat hulle mekaar beter kan leer ken en die res is geskiedenis.
“Rooksein is moeiteloos. Ons werk net as ’n groep saam en is drie vriende wat baie vinnig familie geword het. Die doel is om betekenisvolle musiek te maak in ’n generasie waar dit besig is om uit te sterf,” sê hulle.
Rooksein probeer uniek wees in hulle musiek en probeer om nie soos iemand anders te wees nie. Hulle is iets nuuts en oorpronklik, die enigste reël in hulle musiek is dat daar nie reëls is nie. Hulle musiek is hier om iets te beteken. Musiek is hulle manier om iets te sê op ’n manier waar mense hulleself net nie kan keer om te luister nie. Hulle voel hulle is beslis uniek en gee ‘n goeie “vibe” af, beslis ‘n band wat jou sal laat beter voel.
Megan Danner (22) is die groep se hoofsanger en enigste eva en kom van Paarl in die Weskaap. Sy was van jongs af passievol oor musiek en sing al vadat sy ses is. Een van haar grootste loopbaanhoogtepunte – tot dusver – is dat sy onder die Top 3 geëindig het in die eerste reeks van Emo Adams se realiteitsprogram, Maak My Famous. Die musikant het ’n wye musieksmaak, wat wissel van Country tot Jazz en Rock, en sy vind inspirasie vir haar eie musiek in alledaagse dinge.
Dian Maritz (21) is die hoofkitaarspeler en agtergrondsanger van die driemanskap. Hy is ’n rustige mense-mens, met ’n goeie sin vir humor en ’n positiewe uitkyk op die lewe. Tans studeer hy besigheidsbestuur, maar verklap dat hy al sy hele lewe lank doenig is met musiek. Dié Plettenbergbaaier hou baie van alternatiewe musiek en meen dat kunstenaars soos Jack Johnson, John Butler Trio, Ben Howard, Bon Iver, Mumford and Sons, Beatenberg, Johnny Clegg, Queen, Bread, The Maproom en John Mayer almal ’n invloed op sy styl gehad het. Dian glo dat musiek kuns is wat direk met die hart praat en put baie inspirasie uit die land, geloof en verhoudings wanneer dit by sy eie werk kom.
Renier van der Westhuizen (23) is ’n liedjieskrywer en musikant van Rustenburg, wat inspirasie put uit die waarhede en emosies in die lewe. Musiek was nog altyd een van sy groot passies, alhoewel hy dit ook geniet het om sport – soos sokker – te doen. Wanneer hy nie op die verhoog is nie, geniet hy dit om tyd saam met die spesiale meisie in sy lewe of sy vriende te spandeer en so nou en op te vang met die nuuste televisiereekse.
“Musiek is ons manier om iets te sê sodat ander mense dit hoor. Luisteraars sal ongetwyfeld kan vergelyk met ons klank, styl en lirieke. Ons is maar net drie jongmense wat lief is vir musiek en bevoorreg genoeg om te kan doen waaroor ons mal is,” sluit hulle af.