Wen só met Sharoney, Ontbytsake en klerekas.com

FOTO: Fathom Media

Die beeldskone sangeres, Sharoney, kuier op Saterdag, 15 Augustus 2020 tussen 7:30 en 9:00 by een van die mees populêre TV-ontbytprogramme, Ontbytsake op kykNET (DStv-kanaal 144) waar sy meer sal vertel oor ’n heerlike kompetisie geïnspireer deur haar nuutste enkelsnit, 21 vir ewig wat sy vanaf vandag (14 Augustus 2020) saam met dié program en die grootste Afrikaanse aanlyn eenstop-klerewinkel, klerekas.com bekendstel!  

Heerlike pryse kan gewen word, onder andere die groot prys; een gelukkige persoon kan ’n geskenkbewys ter waarde van R2100 met die komplimente van klerekas.com wen! 

Dié jong vrou met haar borrelende persoonlikheid en onblusbare energie is onlangs aangewys as ambassadeur van Sinden Fitness, asook hulle klerereeks en is ook druk besig met haar deelname aan die Apprentesses Ster-Status realiteitsprogram wat tans vir VIA vervaardig word. Sy beskou steeds 2020 as haar #DoenJaar, ongeag die uitdagings wat Covid-19 meegebring het en met hierdie positiewe uitkyk en houding kan jy verstaan hoekom die publiek, media en haar aanhangers gaande is oor haar.

Sharoney se enkelsnit en musiekvideo, 21 vir ewig, wat die voorloper is vanaf haar komende album, kan gereeld op radiostasies landwyd gehoor word en die musiekvideo speel voortdurend op verskeie TV-kanale landwyd.  Die video is ook al duisende kere op YouTube gekyk.

Kyk die musiekvideo hier:

Dié pop-nommertjie kom uit die pen van Douvoordag se Jattie de Beer en spog met ’n splinternuwe volwasse klank.  Dit laat jou voete behoorlik jeuk om te dans en dis ’n regte oorkruiper.  Dit is ook ’n liedjie wat jou laat terugdink aan die dae toe jy 21 jaar oud was.  Kan jy nog onthou toe jy jou mondigwording gevier het?

21 vir ewig voel ek is een van my beste snitte vandat ek die musiekbedryf betree het. Vandat ek aan ’n nuwe enkelsnit begin dink het, het ek geweet dat ek graag iets nuut in my musiek wil hoor. Jattie het so goed verstaan wat ek in gedagte gehad het en het toe vir my die liedjie geskryf. Ek is verskriklik trots op die enkelsnit omdat ek voel ek redelik baie insette in die proses gehad het. Dit is vir my so lekker om my stempel te kan afdruk in my musiek,” sê Sharoney.

Alhoewel 21 vir ewig ’n sorgvrye tema en ’n moderne aanslag het, getuig dit ook van hoeveel Sharoney en haar musiek oor die jare gegroei het sedert sy die musiekwêreld amptelik in 2014 betree het met haar eerste enkelsnit, Een Keer. Dit is verseker die perfekte lusmaker van die nuwe en opwindende rigting waarin haar loopbaan beweeg.

Die liedjie is beskikbaar op alle digitale platforms hier.

Kyk gerus Ontbytsake, op 15 Augustus tussen 7:30 en 9:00 en gaan besoek ook Sharoney se Facebook-blad om meer uit te vind oor wat jy moet doen om in te skryf 

Heruitsendings van Ontbytsake is op Sondag, 16 Augustus tussen 7:30 en 9:00 en op Dinsdag & Donderdag 18 en 20 Augustus 2020 tussen 13:00 en 14:30 op kykNET, kanaal 144. Dan word dié gesogte TV-ontbytprogram wéér herhaal op kykNET & Kie, kanaal 145 op Saterdag, 15 Augustus tussen 9:30 en 10:00, Sondag, 16 Augustus tussen 6:00 & 7:30 en Dinsdag & Donderdag, 18 & 20 Augustus tussen 11:30 en 13:00.