André Schwartz bring hoop met nuwe aanlynproduksie

FOTO: Verskaf

Hoop en bemoediging is nét wat Suid-Afrika nou gedurende hierdie beproewende tydperk nodig het en op Sondag, 16 Augustus, is dít presies wat André Schwartz met sy nuwe produksie, Songs of Hope – acoustic from Groote Kerk, wil probeer bring. Dié historiese kerk, in Kaapstad, met sy ryk geskiedenis, is die agtergrond van ’n magiese vertoning. 

“Met bykans ses maande wat ons reeds ingeperk is, beleef ek orals dat soveel mense mense moeg en hopeloos voel. Mense is werkloos, kosloos en bang. Ons voel uitgelewer aan besluite wat ons nie altyd verstaan nie,” het André gesê. 

“As kreatiewe wesens moes onsself na aanlynkonserte wend en ek het besluit om iets aan te bied wat bietjie anders is. Met my produksie Songs of Hope – acoustic from Groote Kerk, wil ek weer ’n gevoel van hoop, liefde en bemoeding oordra,” het hy vertel. 

Gedurende dié vertoning doen André sy roerende vertolkings van liedjies soos I Believe, Amazing Grace, You Raise Me Up en Music of the Night. 

“’n Lewe wat sonder hoop is, het geen doel nie.”

André word met kitaar, orrel en klavier onderskeidelik begelei. Sy goeie vriendin, die operasangeres, aktrise en TV-aanbieder, Lynelle Kenned, maak ook haar verskyning in dié konsert met ’n onvergeetlike duet Pie Jesu. Die bekroonde orrelis Zorada Temmingh, die pianis Mark du Plessis en kitaarspeler Hannes Muller is ook deel van die konsert. 

“Die Groote Kerk het ’n ongelooflike atmosfeer gevul met krag, bemagtiging en opheffing. Dit simboliseer hoop. Dís hoekom ek besluit het om my konsert uniek te maak en dit daar op te neem,” het André verduidelik. 

Hierdie kerk spog ook met die grootste kerkorrel in Suid-Afrika en gedurende Songs of Hope – acoustic from Groote Kerk kan dié orrel ook gedurende asemrowende tonele gehoor word. Selfs die klanktoerusting het ’n geskiedenis – André gebruik dieselfde soort mikrofone as wat Andrea Bocelli vir sy solokonsert in die Duomo, in Milaan, vroeër vanjaar gebruik het. Dus Totaal en werklik akoesties. 

Van André se grootste Afrikaanse treffers soos Lief vir Alles Hier en meer onlangse Die Pad sal ook tydens die vertoning gehoor word. 

Songs of Hope – acoustic from Groote Kerk vind op Sondag, 16 Augustus om 17:00 aanlyn plaas en is ongeveer ’n uur lank. Kaartjies is reeds beskikbaar teen R75 – slegs by Howler (www.howler.co.za/AndreSchwartz). Dié produksie word in samewerking met CO Productions aangebied en is vervaardig deur Homebrew Films.