FOTO: Verskaf
Wie sou ooit die oomblik kon vergeet toe Ilan van Staden met die klassieke Fokofpolisiekar-treffer, Ek Skyn (Heilig), tydens The Voice SA se derde seisoen nie net Francois van Coke, maar ook Riana Nel se goedkeuring weggedra het?
Sedertdien het verskeie deure oop én toe gegaan vir dié boorling van Roodepoort – in die hartjie van Gauteng. Hy het ’n liedjie saam met die gesoute liedjieskrywer Neil Schoombee geskryf en sy musiekskool het van krag-tot-krag gegroei. “Die Here het my regtig so geseën na The Voice. Een van die seëninge was om my liedjie Elektries saam met Neil te skryf. Dit was só ’n groot eer,” vertel Ilan in ’n Whatsapp gesprek met Fanie Nel, die redakteur van Afrikaanse Musieknuus.
Ilan het in ’n musikale huis grootgeword waarvan net hy en sy nefie musiek as ’n loopbaan beoefen… En dan onthou hy die goeie herinneringe soos ons gesels: “Ons het nog altyd met musiek en liefde grootgeword. Ek onthou toe ons klein was het ons altyd potte geslaan na Kersete. Dan is ek die drommer en my nefie speel kitaar. En my oom, my ma en almal sing en gaan tekere.”
Sy pad tot by The Voice SA was omtrent ’n kronkelpad. Hy’t saam met ’n vriend van universiteit, André van der Walt, ingeskryf as ’n duet tydens seisoen 2 en moes noodgedwonge kies tussen dié reeks en sy suster se troue. “Jy moet basies vyf weke van jou lewe prysgee vir opnames. My suster se troue was in daai vyf weke, en ek het gedink: dis seker nie so ’n groot probleem nie? Hulle sal seker vir my ’n dag kan afgee? Hulle het toe basies gesê: kies; of jou sussie se troue of The Voice? Ek het natuurlik my sussie se troue gekies. Want as ek nie het nie, het ek beslis dit nie vir die regte redes gedoen nie.”
Hy het toe weer die kans gewaag en as solo-kunstenaar ingeskryf vir seisoen 3. “Toe ek ingeskryf het, het hulle gevra of ek reg is en of daar nie nog ’n troue is nie,” lag hy.
Ilan is tans terug in die kollig nadat hy sy jongste enkelsnit, Sonstraal, op verskeie musiekplatforms vrygestel het. “Ek het die liedjie geskryf vir ’n meisie op universiteit toe ek nog op Potch gestudeer het. Ek het eintlik ’n nuwe rekenaar gekoop, toe moes ek my files backup. Dis so ’n ou liedjie – ek nog die liedjie gespeel by pubs en shows as ’n universiteit student. En hier kom ek af op hierdie liedjie, en ek is soos: ‘My magies, hierdie is eintlik so ’n goeie liedjie. As ek so ’n paar veranderinge maak – en glo my, ons het ’n hele paar veranderinge gemaak – kan ek dit vir die publike oor vrystel.’”
Hy het die liedjie na sy vervaardigingspan Johan van Dyk en Tjaart van der Walt geneem en toe maak hul “magic” met dit wat hy vyf jaar terug geskryf het. “Dis so regte feel good liedjie wat ’n smile op jou gesig sal sit,” verduidelik Ilan.
’n Musiekvideo vir die liedjie is beslis ook op die tafel. “Ons het binnekort ’n dinkskrum waar ek en my videograaf, Ruan Kotze van The Reel Thing Productions bietjie koppe bymekaar gaan sit oor hoe ons die liedjie visueel oor kan dra.” Ilan en sy span dink aan iets lig van aard en glo dit gaan nes die liedjie ’n regte treffer wees.
Vra jy Ilan wat hom inspireer in die lewe, antwoord hy: “My geloof en verhouding met die Here kom altyd eerste. En my hoop kom in die lewe want ek voel dis waar ek gevoed word. Dis al wat standvastig is in enige mens se lewe. En my pad met die Here… ek ontwikkel geestelik en in daai ontwikkling inspireer dit my om ’n voorbeeld te kan wees en my beste te probeer om nes Jesus te wees en ’n blessing vir ander te kan wees en sy lig te laat skyn deur my.”
En watter lewensles het die musiekbedryf hom geleer? “Ek het gou agter gekom dat musiek baie gevaarlik kan wees. Dis soos ’n motorfiets – jy kan so jonk al ’n motorfiets begin ry, maar dis die gevaarlikste ding op die pad. Elke kunstenaar het ’n groot verantwoordelikheid wat hulle saai in ander mense se lewens. Want mense luister nie net met hul ore nie, hul luister met hul verstand en harte en dit wat jy insit, gaan jy uitkry. Jy moet dus mooi, goed en waarheid saai. En dis wat ek hoop om te doen.”
“Onthou net daar is nie ’n formule nie. Elke kunstenaar en elke persoon met ’n droom in die musiekbedryf het hul eie paadjie. Dit gaan nie saak maak of daai een voor jou sy of haar eindbestemming bereik nie. Dit moet jou nie pla nie, wat jy het jou eie roete. My raad is altyd: moenie stop nie, en daar is nie ’n formule nie.”
Dan is dit tyd om te groet en ek pols hom oor duette en saam met watter Suid-Afrikaanse musikant hy graag een sal wil doen. “Dis ’n moeilike vraag… dit sal ’n klassieke Afrikaanse stem moet wees. Dalk iemand soos Laurika Rauch of Coenie de Villiers. Of selfs Karen Zoid. Dit is een van my grootste drome.”