FOTO: Verskaf
Twee jaar sedert die vrystelling van hul laaste enkelsnit, is rock groep Moses Metro Man terug met ’n splinternuwe treffer vir aanhangers, genaamd Lief & Leed.
Die groep, wat tans besig is om aan ’n nuwe album te werk, het Lief & Leed in Maart 2020 geskryf as die eerste snit vanaf die nuwe album. Die treffer handel oor die gevoel en emosies wat ’n mens beleef wanneer iets in die lewe nie uitwerk nie en wanneer mens iemand moet groet.
“Die herinneringe sal altyd by ’n mens bly, en daardie persoon se ‘footprint’ is vir altyd deel van jou lewe. Ek voel mens moet dit koester en daarvoor dankbaar wees. Ons almal leer bymekaar,” sê die groep se voorsanger, Jako Meyer.
Lief & Leed is ’n eerlike, groot en epiese aanbieding waarby aanhangers aanklank sal vind. Tog eksperimenteer die groep nou al ’n ruk met nuwe klanke en idees wat duidelik hoorbaar is in die enkelsnit, wat die begin van ’n nuwe hoofstuk vir Moses Metro Man weerspieël.
“Ons almal moes al iemand groet, vir verskeie redes. Daarom glo ek meeste mense sal met Lief & Leed aanklank kan vind.”
Aanhangers kan uitsien na ’n nuwe Moses Metro Man album, wat so gou as moontlik na die inperking opgeneem sal word vir vrystelling later in 2020.
- Die enkelsnit is nou op alle digitale musiekplatforms soos Apple Music beskikbaar. Laai dit hier af of luister dit hier.
- Volg Moses Metro Man op Facebook of Instagram vir hul doen en late.