FOTO: Verskaf
Ruiter Piet is die solo projek van Pieter de Jager. Dié voormalige baskitaarspeler en liedjieskrywer van Karlien van Jaarsveld se destydse Afrikaanse rockgroep Revolusie is in 2010 met die MK-toekenning vir beste nuweling bekroon en benoem vir die SAMA-toekenning vir Folk Country orkes vir die groep Die Tuindwergies.
Ná Die Tuindwergies se laaste optrede by Jacaranda Day in 2014 het Pieter gaan rond rits reg om die wêreld en aan sy solo-projek Ruiter Piet begin werk saam sy orkes – Jaco Mans (hoofkitaar), André van Coller (saksofoon), Jason Hinch (dromme) en Duard Musk (baskitaar).
Ruiter Piet en Die Partytjie skep voelgoed Folk Rock met Country en Brit pop elemente met liriek wat handel oor gewone mense, dinge en gebeurtenisse. Dis as’t ware ’n klank vir almal. Dit laat jou lag, dans, dagdroom, dink en nostalgies raak.
“Dit klink soos ’n aand uit saam met my,” terg hy.
Na die sukses van sy debuutenkelsnit Minnie se Liedjie, wat in Maart vrygestel is, is hy terug met sy tweede een, Swaai.
“Swaai is ’n lied baie naby aan my hart en ’n persoonlike mylpaal! Ek het die lied al in 2014 geskryf en was die eerste lied wat ek ooit geskryf het met die intensie en doel vir ’n solo-enkelsnit! 100% net Piet. Dis ook die eerste lied wat ek en een van my beste vriende en gunsteling kitaar speler Jaco Mans saam aan gepak en vervaardig het,” vertel Piet.
“Dis waar dit als begin het. Dit was ’n snaakse tyd vir my in 2014 toe die ander lede in my orkes Die Tuindwergies groener wyvelde wou soek. Baie mense dink ek was ook onder die indruk dat sonder die tuindwergies is daar nie begeleiding vir my woorde nie, en ek het ook amper vir verval en dit begin glo, toe kom Swaai.”
Die liedjie handel oor om nooit te vergeet hoekom mens iets begin doen het nie en as mens wel afgedwaal het gou te stop, te onthou en weer harder in te gaan en te werk. Tyd wag vir niemand nie en net met tyd leer mens om meer te sê met minder woorde. Dis ’n lied wat jou laat dans, dink, glo en jy kan jou eie verhaal in die lirieke vind.
- Swaai is op op alle groot digitale musiekplatforms beskikbaar. Klik hier om dit af te laai.