Rocco de Villiers speel Jim Muller vir Vadersdag

FOTO: Verskaf

Die pianis Rocco de Villiers, met Hansie Roodt Jnr op kitare en Regardt de Bruin op die Engelse konsertina, toor met die gewilde keurspele van Jim Muller in sy eerste aanlynkonsert op Vadersdag, 21 Junie. 

Immergroen treffers van Nico Carstens, soos Die Klokkiewals en Zambesi; Warm Snare en Lentewals van Hansie Roodt Snr word afgestof, blink gepoets en kry ’n nuwe huppel in die stap vir die 21ste eeu. 

Rocco speel ook sy eie treffers soos Liewe Hemel Liewe Aarde, Kortbroek Langkouse en Nooit te laat. Hierdie moenie-mis-konsert is ’n huldeblyk, ’n reis van nostalgie en ’n kykie in die toekoms sonder om die verlede te vergeet. 

Voeg daarby ’n uitgevatte Rocco en sy orkes, sy humorsin, en die voete begin jeuk. Van Rocco se sitkamer na joune. 

As bonus word die album Rocco Speel Jim Muller ook aanlyn op Vrydag, 19 Junie op alle digitale platforms vrygestel om afgelaai te word.

  • Die vertoning begin Sondag, 21 Junie om 14:00.
  • Kaartjies kos R100 en is te koop op iTickets